Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

Oorweeg jy dit om ‘n vakansiehuis saam met ander gesinne te koop? Gedeelde eienaarskap het sy voordele. Ten spyte van julle goeie verhouding, maak dit sin om vanuit die staanspoor voorsiening te maak vir die hantering van toekomstige verskille.

Dit is algemene gebruik om ‘n gedeelde vakansiehuis in ‘n maatskappy te hou, met die verskillende ”eienaars” wat aandele en direkteurskappe in hierdie maatskappy hou. Dit behoort duidelik te wees dat jy hier met ‘n behoorlik opgestelde aandeelhouersooreenkoms moet begin.

‘n Tipiese dispuut

In ‘n onlangse saak wat in die Hoë Hof aangehoor is, het ‘n maatskappy vir 53 jaar ‘n waardevolle kuseiendom in Plettenbergbaai besit. In hierdie tyd is die eiendom deur die aandeelhouers en hul gesinne vir hul kusvakansies gebruik. Een gesin het permanent in een van die strukture, wat oor die jare op die perseel aangebou is, gewoon.

Aangesien daar geen direkte verwantskap tussen die aandeelhouding en die werklike gebruik van die perseel bestaan het nie, het daar ongelukkigheid by sommige aandeelhouers hieroor ontstaan. Verskeie gesprekke tussen die aandeelhouers oor ‘n oplossing en moontlike herstrukturering is gevoer, maar die aandeelhouers kon steeds nie ooreenstemming bereik nie. Tydens ‘n algemene vergadering is daar besluit om markaanbiedinge vir die eiendom aan te vra. Die aanbiedinge was aansienlik laer as wat die aandeelhouers verwag het. In 2010 is ‘n aanbod van R60 miljoen Rand ontvang; wat in 2011 tot R40 miljoen gedaal het. Sommige aandeelhouers wou die aanbod aanvaar en die fondse verdeel; ander wou weer wag tot die eiendomsmark herstel het.

Met die aandeelhouers wat nie ‘n meerderheidsbesluit kon neem nie, het aandeelhouers wat 35% van die aandele besit het, die hof genader vir ‘n bevel om die maatskappy te likwideer.

Wanneer kan mens ‘n solvente maatskappy likwideer?

Dit is ongewoon om ‘n solvente maatskappy te laat likwideer. Tog is daar regtens voorsiening hiervoor in gevalle van :–

  • ‘n Ernstige dooiepunt tussen die maatskappybestuur;
  • ‘n Ernstige dooiepunt tussen aandeelhouers na stemming, of
  • Waar dit andersinds reg en billik bevind word.

Die minderheidsaandeelhouers speel tweede viool

Hier is die minderheidsaandeelhouers se aansoek egter van die hand gewys. Die hof was nie oortuig dat hier werklik ‘n dooiepunt tussen die aandeelhouers bereik is nie; die hof was ook nie oortuig dat dit reg en billik sou wees om so ‘n bevel te maak nie.

Dit laat die minderheidsaandeelhouers met die beperkte opsies om hul aandeelhouding ingevolge die akte van oprigting te koop aan te bied. Juis hieroor gaan dit altyd moeilik wees om volle waarde te kry vir ‘n minderheidsaandeelhouding in ‘n maatskappy met ‘n gedeelde eiendom as onderliggende bate. Dit is gevolglik nooit ‘n aantreklike opsie vir die verkopers van ‘n minderheidsaandeelhouding nie.

Maak voorsiening vir ‘n meganisme om toekomstige geskille by te lê – laat vanuit die staanspoor ‘n behoorlike aandeelhouersooreenkoms opstel.

© DotNews, 2005-2012. This newsletter is a general information sheet and should not be used or relied on as legal or other professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your legal adviser for specific and detailed advice.