Wat staan jou te doen as jou maatskappy in finansiële nood verkeer? Die nuwe Maatskappywet maak voorsiening vir ondernemingsreddingsprosedures om ‘n maatskappy in staat te stel om weer kommersieel lewensvatbaar te word. Waar volle of gedeeltelike herstel nie haalbaar is nie, kan die ondernemingsreddingsprosedures steeds gebruik word. Hiervoor sal mens moet kan aantoon dat die reddingsprosedure steeds vir die skuldeisers en ander belanghebbendes ‘n beter opbrengs gaan lewer as wat met formele likwidasie die geval sal wees.
Met hierdie prosedure verkry ‘n maatskappy tydelike beskerming teen sy skuldeisers. ‘n Ondernemingspraktisyn (“praktisyn”) neem die beheer oor by die direksie. Die praktisyn moet dan ‘n voorgeskrewe reddingsplan voorberei.
Risiko vir maatskappydirekteure!
Direkteure wat voortgaan om sake te doen terwyl die maatskappy in finansiële nood verkeer, is op risiko om strafregtelik vervolg te word. Daar is ook ‘n sterk moontlikheid dat hulle persoonlik aanspreeklik gehou gaan word vir maatskappyskulde wat nie betaal kan word nie. Dit is ernstig en direkteure word aangeraai om voortydig die nodige advies te verkry wanneer die maatskappy in nood verkeer.
Besluite, besluite : Hoe siek is die maatskappy?
Met ‘n maatskappy in erge finansiële nood is die keuse gewoonlik tussen likwidasie en ondernemingsredding. Onlangse uitsprake uit verskillende jurisdiksies van die Hoë Hof gee leiding te gee by die uitleg van hierdie nuwe wetgewing en prosedures. Algemene riglyne wat tot op datum uit die regspraak blyk is die volgende:
- As uitgangspunt sal die howe ondernemingsredding bo likwidasie verkies;
- Die hof behou steeds ‘n diskresie oor die toepaslikheid van ondernemingsredding. Die hof verlang praktiese en tasbare inligting (nie vaag of spekulatief nie) wat die kernoorsake van die maatskappy se kommersiële probleme aanspreek en toelig. Die hof verlang ook reeds op hierdie stadium ‘n aanduiding van wat die reddingsplan gaan behels en moet oortuig word dat daar darem ‘n redelike kans op sukses bestaan. Die vraag is eintlik – presies hoe siek is hierdie maatskappy. Is hierdie ‘n onvoorsiene of tydelike probleem of is die maatskappy inherent terminaal siek. Om ‘n onlangse hofuitspraak aan te haal: “……business rescue proceedings are not for the terminally ill close corporations. Nor are they for the chronically ill. They are for ailing corporations, which, given time, will be rescued and become solvent”.
- As dit duidelik blyk dat hierdie maatskappy nie die mas gaan opkom nie en nie gered kan word nie, moet daar dan ondersoek ingestel word na die mees gepaste metode om die maatskappy se sake af te sluit. Gaan die belanghebbende partye – skuldeisers, werknemers, direkteure, aandeelhouers – beter doen met die reddingsprosedures of met tradisionele likwidasie? Elke geval gaan verskil en moet op sy besondere feite beoordeel word. Faktore soos die opbrengste wat met die verkoop van bates behaal gaan word, die regsgevolge van likwidasie, die waarskynlike dividende, die tydsverloop vir uitbetaling met die verskillende prosedures, die ondersoekende bevoegdhede tydens likwidasie en die magte wat ‘n likwidateur het om transaksies tersyde te stel, moet in oorweging geneem word.
© DotNews, 2005-2012. This newsletter is a general information sheet and should not be used or relied on as legal or other professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your legal adviser for specific and detailed advice.