Jy koop jou droomhuis in die platteland in ‘n gebied wat uitsluitlik vir landboudoeleindes gesoneer is. Hier gaan jy afgesonderd, rustig, in harmonie en in stilte na aan die natuur lewe. Dan besluit die buurplaas se eienaars om hul eiendom in ‘n konferensiefasiliteit te omskep. Hulle spits hul veral toe op die aanbieding van huweliksonthale. Skielik word jou naweke oorheers deur die polsende klank van harde musiek, plesierige mense wat sing en skree – hoe later, hoe kwater – afgerond met vertrekkende bruilofspare en gaste wat self toeterend afskeid neem.
Dan wend jy jou tot die hof vir beskerming. Die hof gee jou gelyk en die bure word by wyse van interdik verbied om aan te gaan met hul steurende aktiwiteite. Die hofbevel verbied die aanbieding van enige troufunksies, onthale, konferensies en/of soortgelyke funksies wat geraas maak. Ongelukkig steur die bure hul nie aan die hofbevel nie en die funksies en onthale gaan onverpoosd voort.
Wat is jou volgende stap?
Jou remedie is om die hof weer te nader vir afdwinging van die oorspronklike hofbevel. Enige opsetlike verontagsaming en verbreking van die hofbevel sal nie ligtelik hanteer word nie. In hierdie spesifieke geval is die oortreders beboet met R20 000 of ses maande gevangenisstraf (met ‘n verdere ses maande gevangenisstraf wat voorwaardelik vir drie jaar opgeskort is). Die hof beveel verder dat die buurman wat suksesvol was in sy aansoeke om regsbeskerming, se regskostes deur die ander party betaal moet word en wel op die bestraffende skaal soos tussen prokureur en kliënt.
Die meeste munisipale owerhede kan ook van hulp wees wanneer hulle in kennis gestel word van rumoerige bure – die munisipale regulasies moet afgedwing word.
Indien dit duidelik raak dat die munisipaliteit sloer en nie die regulasies gaan afdwing nie, hoef jy dit nie daar te laat nie. Wend jou tot die hof!
© DotNews, 2005-2012. This newsletter is a general information sheet and should not be used or relied on as legal or other professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your legal adviser for specific and detailed advice.