Met die verhuring van kommersiële eiendom aan regsentiteite, is dit raadsaam om ook ‘n borgakte van die direkteure aan te vra. Dit is belangrik dat die borgakte duidelik is oor die verpligting wat die direkteure op hulself neem, indien die regsentiteit nie in staat is om die huurgelde te betaal nie.
Die bepalings van ‘n borgakte word beperkend uitgelê. Ons howe sal die net van aanspreeklikheid dus nie wyer as die bewoording van die borgakte gooi nie. Die uitdruklike bewoording van die borgakte is kritiek om aanspreeklikheid te bepaal, vir beide die perseel en vir die termyn van die huurkontrak.
Die eerste borgkontrak is nie oordraagbaar nie.
‘n Korporatiewe huurder het drie opeenvolgende huurkontrakte vir dieselfde perseel gesluit. Met die sluiting van die eerste huurooreenkoms het die verhuurder daarop aangedring dat die direkteur van die huurder ook ‘n borgakte teken om betaling te waarborg. Na die verstryking van die huurtermyn het die eerste huurooreenkoms tot ‘n einde gekom. Die entiteit het die perseel weer vir twee opeenvolgende huurtermyne gebruik en gehuur. Die verhuurder was onder die indruk dat die borgakte nog in plek was. Toe die huurder nie die betalings in stand gehou het nie, het die verhuurder teen die direkteur as borg opgetree en het op die oorspronklike borgakte gesteun.
Die Hoë Hof neem die aangebode dokumentasie in ag en die uiteinde is verligting vir die borg. Die verhuurder het aanvaar dat die oorspronklike borgooreenkoms outomaties saam met die huurooreenkoms hernu en verleng word. Die hof bevind egter anders. Die hof bevind dat die verhuurder nie die verlenging kan inlees as dit nie uitdruklik in die borgooreenkoms vervat is nie. Aangesien dit nie ondubbelsinnig in die ooreenkoms verskyn nie, word die direkteur van die borgverpligting onthef.
© LawDotNews is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.