Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

“Tussen die hand en die mond, val die pap op die grond.” 

Al lyk alles reg en op koers, kan dinge nog steeds lelik skeef loop. Dit is veral waar by koopooreenkomste van onroerende eiendom. (Van die meer algemene vorms van onroerende eiendom is grond, huise, plase, woonstelle, kantore, kommersiële geboue asook industriële- en ontwikkelingseiendomme.) Dit is te verstane dat ons regstelsel deur die jare streng formele vereistes ontwikkel het en neergelê het, wanneer dit kom by die verhandeling van onroerende eiendom.

Ons boodskap aan kliënte is eenvoudig – laat ons saam na die ooreenkoms kyk, voordat julle teken.  Die Hoë Hof het onlangs ‘n koopooreenkoms waar ‘n deeltiteleenheid verkoop is, vir twee tegniese redes ongeldig verklaar:

  1. Die verkoper was ‘n beslote korporasie (“BK”). Daar was nie bewyse dat die persoon wat die ooreenkoms namens die verkoper onderteken het, skriftelik deur die BK gemagtig was om dit te doen nie.
  2. Die koper was in gemeenskap van goedere getroud, maar het die ooreenkoms sonder die voorgeskrewe skriftelike toestemming van sy gade gesluit. Waar ‘n verkoper nie geweet het of nie redelik kon weet van sodanige gebrek in toestemming nie, sal die reg hom wel te hulp kom. In hierdie spesifieke geval is daar egter bevind dat die verkoper (die BK) se verteenwoordiger met die sluiting van die ooreenkoms wel deeglik daarvan bewus was dat die koper getroud was. Die hof bevind derhalwe dat die koopooreenkoms fataal gebrekkig was en die transaksie word gevolglik ongeldig verklaar.

Indien jou ooreenkoms nie voldoen aan ons reg se tegniese vereistes nie, is jou transaksie op risiko en kan dit ongedaan gemaak word.

© LawDotNews is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.