Kredietverskaffers: Voordat jy ‘n dagvaarding op sterkte van ‘n kredietooreenkoms kan uitreik, is jy verplig om aan die verbruiker kennis te gee soos voorgeskryf in die Nasionale Kredietwet. Verskillende metodes van lewering word voorgeskryf. As gevolg van die gerief en lae koste van lewering per geregistreerde pos, word lewering per geregistreerde pos dikwels deur skuldeisers verkies.
‘n Strokie van die Poskantoor wat bevestig dat ‘n kennisgewing per geregistreerde pos versend is, was tot op hede voldoende om lewering te bewys. Sodanige strokie is egter slegs bewys dat die kennisgewing versend is en nie dat dit ontvang is nie. ‘n Onlangse uitspraak van die Grondwetlike Hof het verdere verpligtinge op die versender geplaas. Hiervolgens moet die skuldeiser ook bewys dat hy redelike stappe geneem het om die kennisgewing onder die aandag van die skuldenaar te bring. Dit hou in dat jy bewys moet lewer dat die kennisgewing by die regte Poskantoor afgelewer was by wyse van ‘n drukstuk van die Poskantoor se “track and trace” stelsel op hul webwerf. Die Hof bevind dat sodanige bewys van lewering voldoende sal wees tensy daar uitdruklike bewyse tot die teendeel ingedien word.
Verbruikers: Indien jy enige kredietooreenkoms aangegaan het (verbandlening, winkelrekening, afbetalingsooreenkoms ensovoorts) sou jy beslis ‘n dieningsadres daarin moes aandui, waar jy regsdokumente en kennisgewings per geregistreerde pos sal ontvang. Maak seker dat jy hierdie dieningsadres opdateer en aan jou skuldeisers deurgee wanneer jy van adres verander. Anders loop jy die gevaar dat ‘n vonnis teen jou verkry word, sonder dat jy eers weet dat jou skuldeiser regsaksie teen jou ingestel het. In hierdie geval is die kennisgewing deur die poskantoor teruggestuur sonder dat dit afgehaal is. Wanneer jy ‘n domicilium adres kies, is dit jou verantwoordelikheid om kennisgewings daar in ontvangs te neem en ook om geregistreerde posstukke af te haal.
© LawDotNews is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.