“There are 368 000 women between the ages of 15 and 21 with a baby under the age of two. 88% of them are single. (AMPS 2011)” – Eighty20’s Fact-a-Day at http://www.eighty20.co.za/blog/.
Om ‘n werknemer vir enige rede wat aan haar swangerskap verwant is af te dank, word outomaties as onbillike ontslag beskou. Dit stel die werkgewer in gevaar dat ‘n vergoedingsbevel van tot 24 maande se vergoeding teen die werkgewer toegeken kan word (dit is dubbel die normale maksimum van 12 maande se vergoeding).
‘n Onlangse uitspraak van die Arbeidshof illustreer hoe wyd hierdie beskerming strek. Dit is van toepassing op alle vroue, getroud en ongetroud. Dit is gevaarlik vir werkgewers om hierdie uit die oog te verloor.
Die feite
- Die werkgewer se sake is bedryf uit ‘n huurperseel waar die verhuurder ‘n sendinggenootskap was. Hul gedragskode het ‘n verbod op ongetroude vroue geplaas om verwagtend te word.
- ‘n Ongetroude werknemer het verwagtend geraak. Sy het voorheen ‘n afskrif van haar werkgewer se gedragskode ontvang. Sy is ook meegedeel dat sy die perseel sou moes verlaat indien sy die gedragskode oortree.
- Omdat sy swanger was, het die sekuriteitswagte op die perseel haar toegang tot haar werksplek geweier.
- Haar werkgewer wou nie en het ook nie met die sendinggenootskap tussenbeide getree nie en het eerder haar dienskontrak beëindig.
Die uitslag
Die werknemer moes twee feite bewys:
- Dat sy wel ontslaan is. Die Hof bevind dat ‘n werkgewer sy werknemers se aangebode dienste in ontvangs moet neem. Die werkgewer kan nie hier agter die vereistes en reëls van die verhuurder (die sendinggenootskap) skuil nie. Die werkgewer se versuim om namens die werknemer die nodige reëlings met die sendinggenootskap te tref, het op haar ontslag neergekom.
- Dat haar ontslag direk aan haar swangerskap te wyte was. Ons reg verwag dat die werknemer bewys moet lewer dat daar ‘n redelike moontlikheid bestaan dat ‘n outomatiese onbillike ontslag plaasgevind het. Die onus skuif dan op die werkgewer om aan te toon dat daar ‘n ander regmatige rede vir die ontslag bestaan. Die Hof bevind dat die beskerming van ‘n vrou se diensverhouding tydens swangerskap nie slegs tot getroude vroue beperk is nie. Die Hof het gevolglik geen probleem gehad om in die guns van die ongetroude werknemer te beslis nie.
Werkgewers behoort hulle nie onnodig te laat inperk nie.
Indien beperkende voorskrifte in jou huurkontrak op onredelike wyse inbreuk maak op jou werknemers se regte, bly dit die verantwoordelikheid van die werkgewer om die situasie te hanteer. Nòg die verhuurder, nòg die werknemers gaan pa staan vir jou probleem as werkgewer. Neem advies indien dit op jou van toepassing is!
© LawDotNews is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.