Werknemers beskik oor die grondwetlike reg om te staak, solank dit binne die raamwerk van ons arbeidswetgewing geskied. Werkgewers en werknemers behoort duidelikheid te hê oor wanneer stakings “beskermd” is en wanneer nie. Vir alle partye is hier baie op die spel en ‘n verkeerde interpretasie van die situasie en die regsposisie kan wesenlike gevolge inhou.
In breë trekke kan ons onderskei tussen:
- ‘n Staking wat voldoen aan die voorskrifte van die Wet op Arbeidsverhoudinge is ‘n “beskermde” staking. Enige afdanking van personeel wat aan ‘n beskermde staking deelneem, sal outomaties onbillik wees.
- ‘n Onbeskermde staking (“wildcat strike”) voldoen nie aan die voorskrifte van die Wet op Arbeidsverhoudinge nie; deelname aan so ‘n staking is ‘n vorm van wangedrag en dit kan tot ontslag aanleiding gee.
Die voorskrifte en vereistes van die Wet op Arbeidsverhoudinge met betrekking tot stakings is legio. Dit is raadsaam om advies te neem indien dit op jou van toepassing is. In die lig van die huidige arbeidsonrus in die land wil ons graag twee aspekte oor stakings uitlig:
- Voordat werknemers tot ‘n staking kan oorgaan, moet hulle eers 48 uur kennis gee van die besluit om tot staking oor te gaan. Werknemers kan persoonlik kennis gee, dikwels word dit deur die werknemers se verteenwoordigers, gewoonlik hul vakbond gegee. Hoe gemaak as daar meer as een vakbond is wat betrokke is? Moet elke verteenwoordigende vakbond kennis gee van ‘n staking? Wat van die werknemers wat nie verteenwoordig is nie? Moet hulle dan individuele kennis gee? Die Grondwetlike Hof het onlangs hieroor uitsluitsel gegee. Hier het een van die vakbonde met die meerderheid steun (ook die erkende onderhandelingsagent vir al die werknemers) die voorgeskrewe 48 uur kennis gegee van ‘n staking wat sal volg. Die hof bevind dat sodanige kennisgewing voldoende is en dat dit alle werknemers beskerm, ook werknemers wat nie lede van enige vakbonde was nie.
- Stakende werknemers wat aan ‘n beskermde staking deelneem, moet steeds vreedsaam en regmatig optree. Geweld, intimidasie en die beskadiging van eiendom kan nie goedgepraat of aanvaar word nie. Dit sal eerder aanleiding gee tot strafregtelike vervolging, dissiplinêre optrede en aanspreeklikheid vir enige skade wat aangerig word. Die vakbond kan self ook finansieel aanspreeklik gehou word vir skade wat deur hulle optrede en toedoen veroorsaak is – dit is dus belangrik dat hul lede se staking met dissipline gepaard gaan.
© DotNews, 2005-2012. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.