Jy het nog tot 30 April 2013 om jou maatskappy se Aandeelhouersooreenkoms en die maatskappy se Akte van Oprigting in lyn te bring met die bepalings van die 2008 Maatskappywet. (Ingevolge die 1973 Maatskappywet het ‘n maatskappy sy Statute gehad en ook sy Akte van Oprigting.)
In uiterste gevalle kan dit inhou dat van jou ooreenkomste en maatskappydokumente ongeldig gaan raak. Vanaf 1 Mei 2013 sal enige ooreenkoms of maatskappydokument wat in stryd is met die bepalings van die 2008 Maatskappywet nietig wees insoverre dit in stryd is daarmee. Dit sal natuurlik ernstige gevolge inhou vir die maatskappy, maatskappy direkteure en aandeelhouers.
Moet eerder nie uitstel nie!
Neem professionele advies oor hoe jou aandeelhouersooreenkoms en Akte van Oprigting aangepas moet word om aan die wet te voldoen. Los jy dit te laat, is daar dalk voldoeningsprobleme. Daar sal ook ekstra kostes wees (sekere aanpassings wat nou gratis by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom – CIPC – ingedien kan word, gaan dan teen betaling gedoen moet word) en vertragings gaan ook waarskynlik voorkom. Beide CIPC en jou adviseurs gaan al hoe besiger raak soos wat die sperdatum nader kom.
© DotNews, 2005-2012. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.