Vir solank as wat jy (en jou grootouers en al die ander inwoners van die omgewing) kan onthou, het die publiek vrye toegang tot ‘n spesifieke pad geniet en so toegang tot die strand gehad. Dan koop ‘n ontwikkelaar die grond waardeur die pad loop, toegang tot die pad word kort daarna afgesper, hekke en valhekke word opgerig en toegang word slegs aan permithouers verleen.
Watter regte is tot jou beskikking?
Hierdie geval is onlangs in die Hoë Hof aangehoor waar die plaaslike belastingbetalersvereniging die Hof genader het. Die Hof beslis dat die algemene publiek ‘n erkende reg van weg deur geslagtelange gebruik oor die private grond gevestig het. Die publiek kon dus nie eensydiglik deur die ontwikkelaar van hierdie reg ontneem word nie.
Ontwikkelaars – die gevare
Neem kennis van die moontlike gevare hierin. Ons reg erken reeds vir eeue lank die bestaan van sulke ongeregistreerde toegangs- en gebruiksregte oor private grond. Hierdie aansprake is dus nie noodwendig formeel in die Aktekantoor of op die betrokke titelakte van die grond geregistreer nie, maar dit is nietemin afdwingbaar teenoor die eienaar.
In hierdie betrokke geval het die Hof die getuienis aanvaar dat die grond reeds sedert 1795 as publieke deurgang na die strand gebruik is. Gevolglik het die Hof die ontwikkelaar beveel om sondermeer aan die algemene publiek onverhinderde deurgang na die strand te verleen en te herstel.
As gevolg van die spesifieke omstandighede en die optrede van die ontwikkelaar, is hy ook beveel om die regskostes op ‘n bestraffende skaal soos tussen prokureur-en-kliënt te betaal.
Reg van weg – wat moet jy bewys?
Hou eerstens in gedagte dat ons hier met ‘n publieke reg van weg te make het – ander reëls sal van toepassing wees waar daar ‘n private reg van weg ter sprake is.
Tweedens, het die Hof hier sterk daarop klem gelê dat die enigste alternatiewe pad die voetgangers aan ‘n baie langer staproete in uiterste hitte sou blootstel. Volgens die Hof sou dit onmenslike gevolge vir die voetgangers inhou en is dit, soos die hof dit self stel : “without any doubt against the idealistic notions of ‘ubuntu’……(‘humaneness’)”.
Ten einde ‘n weerlegbare vermoede te vestig dat ‘n publieke serwituut oor grond bestaan, sal jy die volgende moet bewys:
- Dat die algemene publiek op ‘n deurlopende en ononderbroke basis die reg van weg uitgeoefen het.
- Dat die eienaar en sy opvolgers nie ingemeng het met die algemene publiek se uitoefening van hierdie reg van weg nie.
- Dat die betrokke aktiwiteit of gebruik reeds vir geslagte lank sonder teenstand uitgeoefen word. Die aanspraakmaker sal moet aantoon dat die reg reeds vir ‘n minimum tyd van 30 jaar deur die algemene publiek geniet en uitgeoefen word.
Finale opmerking: In hierdie betrokke geval was toegang tot ‘n strand ter sprake. Die algemene regsbeginsels sal egter op alle aansprake van ‘n publieke reg van weg van toepassing wees.
© DotNews, 2005-2012. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.