Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

Untitled-2Ingevolge die Elektriese Masjinerie Regulasies moet jy vanaf 1 Oktober 2012 ‘n sertifikaat vir jou elektriese heiningstelsel hê indien jy so ‘n heining installeer, toevoeg of veranderinge daartoe aanbring. Enige heinings wat voor 1 Oktober 2012 in plek was, word vrygestel vir solank as wat dit onveranderd bly.

Siende dat daar geen duidelikheid is oor wie verantwoordelik sal wees vir die verkryging van hierdie sertifikaat nie, is hierdie ‘n resep vir dispute en vertragings. Die gevaar vir kopers en verkopers van eiendom is dat hierdie vereiste om ‘n sertifikaat te verkry, nie net van krag is wanneer jy ‘n heining vergroot of veranderinge daaraan aanbring nie, maar ook wanneer die eiendom verkoop word.

Koper: Jou risiko

Die Regulasies bepaal nie uitdruklik dat dit die verkoper se plig is om so ‘n sertifikaat aan die koper te verskaf nie en gevolglik is dit moontlik dat oordrag van die eiendom plaas kan vind sonder sodanige sertifikaat. Indien dit die geval is, sal die koper nogsteeds aan die wet moet voldoen wat kan beteken dat hy self vir die uitreiking van die sertifikaat moet sorg en daarvoor moet betaal. Die doel met die regulasies is om ‘n minimumstandaard daar te stel waaraan alle elektriese heinings moet voldoen. Dit kan dus beteken dat jy onvoorsiene uitgawes gaan hê om ‘n verouderde stelsel te laat moderniseer om aan die nuwe vereistes te voldoen.

Moet eerder nie hierdie risiko loop nie. Dring daarop aan dat die koopooreenkoms dit duidelik maak dat die verkoper moet toesien tot die uitreiking van hierdie sertifikaat voordat oordrag kan geskied.

Nota: ‘n Sertifikaat wat uitgereik is, kan wel aan ‘n nuwe eienaar oorgedra word. Indien die eiendom dus in die toekoms weer verkoop word, sal dit nie nodig wees om ‘n verdere elektriese sertifikaat aan te vra nie, tensy daar intussen veranderinge aan die elektriese heining aangebring is. Die koper moet dan net daarop aandring dat die verkoper in die kontrak waarborg dat daar geen veranderinge aan die heining aangebring was, vandat die vorige sertifikaat uitgereik is nie.

© DotNews, 2005-2012. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.