Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

G&T_ProkureurDie Kommissie vir Versoening, Bemiddelling en Arbitrasie (KVBA) se reëls laat in die algemeen regsverteenwoordiging toe tydens arbitrasies, met een belangrike en algemene uitsondering.Wanneer die dispuut handel oor die billikheid van ‘n ontslag as gevolg van óf wangedrag óf onbevoegdheid van die werknemer, bepaal die reëls dat jy nie op regsverteenwoordiging geregtig is nie. Die voorsittende kommissaris beskik wel oor ‘n diskresie om regsverteenwoordiging toe te laat indien:

  • Die kommissaris en al die partye daartoe toestem, of
  • Die kommissaris bevind dat dit “onredelik” sou wees indien jy verplig sou word om die dispuut op jou eie en sonder regsverteenwoordiging te hanteer.

In ‘n onlangse beslissing van die Hoë Hof, is hierdie verbod op regsverteenwoordiging as ongrondwetlik en arbitrêr bevind.

Die Hof skort hierdie bevel van ongrondwetlikheid vir ‘n periode van 3 jaar op, sodat die relevante reël vervang kan word. Let wel dat die nuwe reëls nie voorsiening hoef te maak vir onbeperkte regsverteenwoordiging nie – die nuwe reël sal daarom waarskynlik steeds beperkings op regsverteenwoordiging daarstel, maar wel ‘n wyer diskresie aan die kommissarisse verleen.

Die geldende posisie

Beteken dit dat jy nou outomaties geregtig is op regsverteenwoordiging tydens hierdie tipe arbitrasie? Die antwoord is steeds nee.

Die Hof het die verklaring van ongeldigheid vir eers opgeskort. Die kommissarisse kan gevolglik voortgaan om die bestaande wetgewing en inperking op regsverteenwoordiging toe te pas. In die lig van hierdie uitspraak sal kommissarisse waarskynlik meer geneë wees om regsverteenwoordiging by die arbitrasie van arbeidsaangeleenthede toe te laat. Buiten dat jy regsverteenwoordiging kan versoek moet daar onthou word dat jy egter oor geen waarborg beskik dat regsverteenwoordiging toegelaat sal word nie.

© DotNews, 2005-2013. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.