Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

G&T_EFTElektroniese fondseoorplasings, beter bekend as EFTs, het ‘n wyd aanvaarde en gewilde betalingswyse in Suid-Afrkia geword, ten einde die risiko van kontant of tjekbedrog te negeer.

Baie beskou die uitgedrukte bewys van ‘n elektroniese fondseoorplasing as ‘n bevestiging van betaling asof dit ‘n kontant deposito transaksie is.  Veral in die koop en verkoop van motorvoertuie.  Daarom die aandrang om die betaling daar en dan te doen by wyse van elektroniese fondseoorplasing, en met ontvangs van die gedrukte bewys, die geregistreerde eienaarskap van die voertuig oor te dra na die koper, alles op dieselfde dag.

Die bedrieglike gebruik van elektroniese fondseoorplasings na die verkoper se bankrekening, veral waar daar twee verskillende finansiële entiteite betrokke is, word nou gebruik om die oorspronklike Natis dokumentasie alternatiewelik die geregistreerde eienaarskap van die voertuig op die eNatis stelsel te verkry.  Sonder enige bedoeling om die betalingsplig te eerbiedig.

Elektroniese fondseoorplasings wat onder meer gereguleer word deur ooreenkomste tussen die onderskeie finansiële instellings.  Afhangend van die ooreenkoms, kan ‘n transaksie tot twee dae neem om op die bankstaat van die begunstigde te verskyn as ‘n deposito of inbetaling.  Om ‘n uitgedrukte bewys van ‘n elektroniese fondseoorplasing as ‘n “bewys” van ‘n kontant deposito transaksie te aanvaar, verhoog die verkoper se wesenlike risiko van ‘n bedrieglike transaksie.

Meeste persone weet nie dat, afhangend van die finansiële  instelling waar die rekening gehou word, enige elektroniese oorplasing binne ‘n paar uur nadat dit gemaak is, boonop deur die rekeninghouer teruggeskryf kan word nie.

Slinkse bedrieërs, bedrewe in die werking van die reg en die finansiële stelsels van Suid-Afrika, wend hierdie kennis tot nadeel van vele ander.

In die geval van die verkoop van ‘n motorvoertuig, of enige ander item wat eienaarskap registreerbaar is op die eNatis-stelsel, is die Natis dokument ‘n baie handige instrument om betaling te verseker en te bevestig voor die oordrag van geregistreerde eienaarskap.

Die maklikste manier om jouself te beskerm teen hierdie risiko van verlies weens wanbetaling of bedrog, is die huidige, geldige en oorspronklike Natisdokument waarop die geregistreerde eienaar en titelhouer van sodanige voertuig korrek gereflekteer word.

Solank die verkoper van die voertuig  inbesit van die oorspronklike Natis-dokument is waarop die verkoper as die geregistreerde eienaar en titelhouer van die voertuig gereflekteer word, kan geen bedrieër of enige ander persoon die geregistreerde eienaarskap van so ‘n voertuig verkry nie.  Sodra volle betaling op die bankstaat van die verkoper verskyn kan die nodige dokumentasie oorhandig word sodat die koper registrasie van die voertuig kan neem hetsy aan homself of sy genomineerde.

Sou die verkoper die oorspronklike Natis-registrasie dokumente goedsmoeds oorhandig voordat betaling geverifieer is, kan die voertuig verder verhandel en boonop geregistreer word aan ‘n onskuldige derde party, terwyl die oorspronklike verkoper steeds in afwagting is op betaling.

Geen party tot ‘n ooreenkoms kan meer regte oordra as wat so ‘n party regtens het nie.  Daarom kan die verkoper wie die Natis-dokumente en registrasie van die voertuig teruggehou het, die voertuig terugeis van enige persoon wie die voertuig op daardie stadium in besit het, selfs as so ‘n besitter reeds die voertuig “gekoop en betaal” het.  Solank as wat die voertuig nog in die verkoper se naam geregistreer is op die eNatis stelsel, kan die verkoper homself teen ‘n bedrieglike transaksie beskerm en sy verliese beperk.

In die geval waar die koper dan nie met die betaling vorendag kom nie, kan die  verkoper sy regte afdwing deur ‘n baie eenvoudige maar hoogs doeltreffende aansoek by enige hof.  Hierdie aansoek, wat ex parte gebring kan word, behels ‘n tussentydse bevel vir die teruggawe van die voertuig aan die geregistreerde eienaar deur die balju, en ‘n datum waarop diens  sal plaasvind tot betrekking van die koper, waarna die gewone mosie-prosedure gevolg word.

Dit word ook aanbeveel om tegelykertyd ʼn dagvaarding uit te reik vir die kansellasie van die ooreenkoms en teruggawe van die voertuig, regskoste en rente.

Vir so lank as wat die verkoper die oorspronklike Natis-dokumentasie behou en die geregistreerde eienaar van die voertuig is, sal die verkoper ‘n prima facie afdwingbare reg teenoor enige besitter van sodanige voertuig hê.

‘n Verkoper wat alreeds toegestem het tot die oordrag van registrasie van sodanige voertuig en die nodige dokumentasie oorhandig en onderteken het, is in ‘n onbeneidenswaardige posisie.  Waar die koper willens en wetens die bedoeling gehad het om te bedrieg, kan die litigasie teen so ‘n “koper” langdradig, uitgerek en duur wees met geen waarborg in die terugverhaling van die verlies nie.

Lees gerus ook Unitrans Automotive (Pty) Ltd v Trustees of the Rally Motors Trust 2011 (4) SA 35, net een van verskeie soorgelyke bedrieglike transaksies deur dieselfde “koper” wat bedrieglikeelektroniese fondsoorplasings sowel as verwys na  ander sakein hierdie uitspraak.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.