Die Wet op Dieresiektes 35 van 1984 (hierna genoem “die Wet”) het op 1 Oktober 1986 in werking getree. Die Wet sal mettertyd deur die Animal Health Act 7 van 2002 vervang word, maar vir nou geld die eersgenoemde steeds.
Hierdie wetgewing plaas ‘n verpligting op die regering om te verseker dat dieresiektes en parisiete nie versprei nie en bepaal watter maatreëls toegepas moet word om die gesondheid van ons diere te bevorder.
Daar bestaan hoofsaaklik twee redes waarom die gesondheid van diere bevorder en beskerm moet word. Eerstens en waarskynlik die belangrikste is die gesondheid van die mens. Ons is tog almal bewus dat sekere siektes in diere, kan versprei na die mens op verskeie wyses, die mees algemeenste dan seker die eet van besmette diere produkte. Tweedens is die handel in diere en dan veral wilde diere ‘n belangrike deel van ons land se ekonomie.
Die Wet bevat ‘n lys van beheerde siektes. Sodra diere positief getoets word vir een van hierdie siektes skryf die Wet dan spesifieke maatreëls voor wat deur die regering, meer spesifiek dan die betrokke staatsveearts, ingestel moet word om te verseker dat die siekte nie versprei nie. Siektes wat op hierdie lys verskyn is dan onder andere:
- Bek-en-klouseer (gesplete hoef diere)
- Newcastle siekte (pluimvee en voëls)
- Hondstolheid (alle diere)
- Salmonella (pluimvee en voëls)
- Rinderpes (gesplete hoef diere veral beeste)
- Tuberkulose (alle diere behalwe visse, reptiele en amfibieë)
Daar is verskeie staatsveeartse vir elke provinsie en dan is daar ook staatsveeartse op nasionale regerings vlak in die diens van die Departement van Landbou. Elke distrik in ‘n provinsie sal dan ‘n aangewese staatsveearts hê. Dit is hierdie persone wat die maatreëls moet toepas wanneer daar n uitbraak van ‘n siekte is. Die Wet skryf vir elke beheerde siekte maatreëls voor wat wissel wan isolasie en toetse, immunisering, dip, behandeling en dan ook die vernietiging van die besmette diere in gevalle waar dit ‘n hoogs aansteeklike en gevaarlike siekte is.
Daar is baie streng maatreëls vir die in- en uitvoer van diere. Die hoofrede hiervoor is dan ook om die verspereiding van sekere siektes oor internasionale grense te bekamp. Die Wet maak voorsiening dat kwarentyn stasies opgerig mag word waar ingevoerde diere gehou moet word. Die Wet bepaal verder dat geen dier die land mag binnekom sonder ‘n permit nie. Die permit moet eers bekom word alvorens die dier na Suid-Afrika vervoer kan word en die land kan binnekom op plekke soos deur Wet 91 van 1964 bepaal beter bekend as ‘n doeane.
Ten einde ‘n permit te bekom sal daar eers seker gemaak moet word dat die dier nie enige van die beheerde of ander siektes het nie. Daarom sal diere en selfs troeteldiere eers deur ‘n veearts getoets moet word voordat hulle die land kan binnekom. Diere moet ook getoets word sodra hulle die land binnekom.. Die Wet bepaal dat die dier eers by die doeane aangehou moet word vir verdere toetse. Die Direkteur van Diere Gesondheid sal dan eers skriftelik moet toestemming gee dat die dier uit aanhouding gelaat kan word en die land se grense kan binnekom.
Die Wet plaas ook ‘n verpligting op eienaars van diere en die eienaars van die eiendom waarop diere aangehou word om te verhoed dat diere besmet word en siektes versprei. Indien ‘n beheerde siekte wel uitbreek moet die persone dit onmiddelik aanmeld by die amptenare, bv. die betrokke staatsveearts in kennis stel sodat die maatreëls wat in die Wet voorgeskryf word, toegepas kan word. Verder is dit ook die Wet op Dieresiektes wat die regering die mag gee om rondloperdiere van kant te maak onder sekere omstandighede.
Dit is belangrik dat die regering hulle verpligtinge nakom soos voorgeskryf deur die Wet, nie net ten einde diere se gesondheid te bevorder en beskerm nie, maar ook ons gesondheid.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.