Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

G&T_Sectional titleInwoners van ‘n Deeltitel Skema moet hul onderwerp aan die reëls en regulasies van die Beheerliggaam. Hierdie reëls en regulasies word onderskryf deur die Deeltitelwet.

Wanneer jy van voorneme is om sekere strukturele verandering aan jou eenheid aan te bring moet jy bewus wees daarvan dat die Deeltitelwet ‘n proses voorskryf wat gevolg moet word voordat jy met die veranderings in aanvang kan neem. Veranderinge aan jou eenheid wat die grense of vloer spasie vergroot word as ‘n uitbreiding gesien en moet aan die vereistes van die Deeltitelwet voldoen.

Die proses en vereistes  wat deur die Deeltitelwet voorgeskryf word waaraan voldoen moet word , word hieronder bespreek.

Stap Een: 

Die Wet bepaal dat daar toestemming van die Beheerliggaam verkry moet word. Wat gewoonlik  gebeur is dat die Trustees ‘n algemene vergadering sal belê waartydens ‘n spesiale resolusie geneem moet word om die uitbreiding goed te keur. ‘n Spesiale resolusie kan slegs geneem word wanneer 75% van die eienaars teenwoordig by die vergadering toestemming verleen. Hierdie prosedure van die algemene vergadering kan egter baie tydrowend wees aangesien die lede 30 dae voor so ‘n vergadering van die vergadering in kennis gestel moet word. Alternatiewelik kan ‘n spesial resolusie ook verkry word deur die eienaars individueel te nader en dan toestemming van 75% van al die eienaars te verkry.

Stap Twee: 

Sodra toestemming van die Beheerliggaam verkry is, kan die bouplanne opgetrek word, welke planne dan deur die Plaaslike Owerheid goedgekeur moet word. 

Stap Drie: 

Volgende moet Deeltitelplanne wat die uitbreiding van die eenheid aandui , opgestel word deur ‘n Landmeter. Hierdie Deeltitelplanne moet deur die Landmeter-Generaal goedgekeur word.

Stap Vier: 

Nadat die Deeltitelplanne deur die Landmeter- Generaal goedgekeur is, is dit raadsaam om met jou Prokureur  te konsulteer wat sal toesien tot die registrasie van die gewysigde Deeltitelplanne in die Aktekantoor asook die notering teen die Titelakte van die verandering in die grootte van die eenheid.

Indien daar ‘n verband op die eiendom geregistreer is moet die Prokureur ook toestemming van die Bank verkry voordat die proses in die Aktekantoor kan plaasvind.

‘n Hereregte kwitansie wat vanaf SARS verkry word moet ook saam met die dokumente ingedien word by die Akteantoor. Die hereregte kwitansie moet verkry word aangesien daar ‘n verhoging in waarde van die eindom is as gevolg van die uitbreiding. Vir hierdie doel moet twee waardasies van eiendomsagente verkry word wat die waarde van die eiendom voor- en na die verbeterings angebring word, aandui.

Die Landmeter moet op die Deeltitelplanne stupileer of die deelnemingskwota van die eenheid nie met meer as 10% vergroot het as gevolg van die uitbreiding nie. Indien die deelnemingskwota met meer as 10 % vergroot het moet die Prokureur ook die toestemming van elke verbandhouer van ‘n eenheid in die Skema bekom.

Dit is raadsaam dat Deeltiteleienaars voldoen aan hierdie regsvereistes, aangesien ‘n versuim om dit na te kom aansienlike vertragings veroorsaak wanneer die eiendom verkoop word.

Vewysings:

Section 24 of the Sectional Titles Act
Sectional Titles, Share Blocks and Time Sharing, vol1, Prof CG vd Merwe
Demystifying Sectional Title , M Constas and K Bleijs
Sectional Title on Tap, vol 1, Tertius Maree
Article by J Paddock
Article by Rob White

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.