Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

G&T_What you sayDie wet van naamskending poog om  balans te vind tussen die eiser se reg op reputasie, en n verweerder se reg op vryheid van uitdrukking, die is twee regte wat beide die gemenereg en in die Grondwet erken word. Die skending van iemand se naam is deesdae ‘n ernstige oorweging met die interaksie in die skryf van briewe, e-posse en algemene gesprekke. ‘n Eiser moet eerstens bewys dat die kommentaar wat oor hom of haar gemaak is, gepubliseer is (geopenbaar aan iemand anders as die eiser) en tweedens dat die kommentaar prima facie lasterlik tot sy reputasie is.‘. Sodra dit bepaal is berus die onus (bewyslas) op die verweerder om te bewys dat sy optrede nie wederegtelik was nie (m.a.w. sonder opset).

Wederegtelikheid Onregmatigheid is gebasseer op opset in teenstelling tot nalatigheid. Selfs waar dit vasstaan dat die verweerder onregmatig opgetree het mag hy steeds ander verwere hê soos:

  1. Dat die woorde die waarheid is;
  2. Die kommentaar is in openbare belang;
  3. Dat die kommentaar slegs ‘n opinie was en nie as ‘n feit weergegee nie;
  4. Dat die kommentaar billik was onder die omstandighede;
  5. Dat die kommentaar gemaak is onder omstandighede van gekwalifiseerde privilegie, byvoorbeeld waar iemand ‘n plig het en teenoor iemand wat ‘n plig het om daarvan kennis te neem.

Die feit dat kommentaar die waarheid is beteken nie dat dit nie skending is nie. Die toets om die skendings waarde te bepaal is of die redelike persoon van gewone intelligensie dit so sou verstaan het dat dit neerhalend van die eiser is. Die verweerder kan slaag met sy verweer dat sy kommentaar billik en in openbare belang was mits daar geen element van opsetlikheid in is nie. Die eiser hoef maar slegs te bewys dat die verklaring prima facie op ‘n skending van sy reputasie neerkom en dat dit gepubliseer is.

Publikasie kan plaasvind teenoor ‘n spesifieke persoon of binne hoorafstand  teenoor die algemene publiek, en dit word as genoegsaam geag as dit hoorbaar is aan ander of onder die publiek versprei word soos ‘n boek, plasings op webtuistes, of bulletin borde op die Internet.

Die onus  rus op die verweerder om sy  verdediging op ‘n balans van waarskynlikhede te bewys. Wat dit beteken is dat die twee weergawes oorweeg moet word en die hof besluit dan op die op die mees waarskynlikste weergawe onder die omstandighede. Wanneer die hof egter nie kan besluit watter weergawe die waarheid is nie en waar dit as verdediging geopper is sal die verweerder dan nie met sy verdediging slaag nie.

In ‘n demokrasie is kritiek,ondeurdagte beskuldigings en insinuasies – soms onbillik en ongegrond – deel van die politieke speelveld en regdenkendes in ‘n gemeenskap dink gewoonlik nie minder van politici wat die voorwerp van sulke kommentaar deur opposisie partye of politieke kommentators is nie. Die konteks veroorsaak dalk dat wat andersins lasterlik sou wees, niks meer as misbruik is nie. Die howe laat baie grasie toe vir politieke debat en politici behoort nie oorhaastig te reageer nie. Nietemin is dit belangrik dat howe toegewings maak maar nie immuniteit gee nie en dat daar beperkings is: enige toegewing behoort vir politieke inligting, aktiwiteite of sake wat verband hou met die land se politiek te wees maar nie verby dit nie, en onderskeid moet ook getref word tussen ongevraagde aanvalle op iemand se integriteit en reputasie van politici en ‘n aanval op iemand se politieke sienings, beleid en optrede. Die howe moet toepassing gee aan die waarde van openheid, deursigtigheid en rekenskap, en tog steeds integriteit en privaatheid beskerm. Dit blyk dat die grense oorskry word waar bymotiewe of eeneerbare gedrag ter  sprake is.

Verwysings:

Law of South Africa, Volume 8(1) – Second Edition Volume
DELTA MOTOR CORPORATION (PTY) LTD v VAN DER MERWE 2004 (6) SA 185 (SCA)
Constitution of the Republic of SA, 1996 ss 10 and 16. National Media Ltd v Bogoshi 1998 4 All SA 347 (SCA)

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.