Facebook kan beskryf word as `n sosiale netwerk wat mense reg oor die wêreld toelaat om oor en weer met vriende, familie, kennisse, kollegas, en somtyds ook vreemdelinge te kommunikeer. Dié sosiale netwerk spog tans met meer as 9 biljoen gebruikers, waarvan 900 miljoen ten minste een keer `n maand hul rekening opdateer.
Alhoewel daar kritiek bestaan dat Suid-Afrikaanse howe oor die algemeen skepties en somtyds traag is om ontwikkelinge van hierdie soort in oorweging te neem, is groot opspraak verwek toe Regter Ester Steyn in die Durbanse Hooggeregshof betekening van `n hofkennisgewing deur middel van Facebook verwelkom het.
Hierdie dringende ex parte uitspraak volg nadat die verweerder se prokureur van rekord in die aangeleentheid van CMC Woodworking Machinery (Pty) Ltd vs Pieter Odendaal Kitchens onttrek het en versuim het om `n alternatiewe adres, waar kennisgewing op die teenpartye beteken kon word, te verskaf. In hierdie stadium van die proses is pleitstukke reeds aan beide kante geruil en was die partye afwagtend van `n beskikbare hofdatum. Onnodig om te sê, was die eiser se prokureurs in `n posisie geplaas waar hulle geen alternatiewe adres gehad het om die hofdokumente op die verweerder te beteken nie. Alle daaropvolgende pogings om die verweerder ooreenkomstig die hofreëls te kontak, was onsuksesvol. Gevolglik het die eiser (applikant) `n dringende aansoek gebring vir vervangende betekening op die verweerder deur die plasing van `n persoonlike boodskap op sy Facebookblad.
In die lig van dié aansoek het Regter Steyn groot klem geplaas op die onlangse wysiging van die Eenvormige Hofreëls en meer spesifiek Reël 4A waarin bepalings van die Electronic Communications and Transaction Act 25 of 2005 geïnkorporeer is. Hierdie reël maak dit moontlik vir litigante om hofdokumente te beteken per e-pos of faksimilee en is dit dan spesifiek ingevoer om te verseker dat die hofprosesse wel onder die betrokke party se aandag gebring word.
Die reëls maak verder voorsiening vir die toepaslike proses wat gevolg moet word in gevalle waar betekening nie in die gewone gang van sake suksesvol uitgevoer kan word nie. Hierdie proses staan bekend as vervangende betekening. Die party wat poog om die hofdokumente te beteken moet aansoek om vervangende betekening by die hof doen en slegs as die hof oortuig is dat die betrokke metode van betekening voldoende sal wees en dat die tradisionele metodes van betekening nie effektief was nie, sal die hof toestemming verleen vir die spesifieke metode van betekening.
Die regters in die hof sal die volgende faktore in ag neem:
- Aard van die eis
- Gronde waarop die eis gebaseer is
- Metodes van betekening reeds gebruik
- Laaste adres van die verweerder
- Dat die applikant die normale metodes van betekening probeer het, wat onsuksesvol was
Regter Steyn het bevind dat hoewel Facebook primêr as ’n sosiale netwerk dien, dit geregverdig is om af te lei dat dit ook ander nuttige funksies dien, soos bv. om individue op te spoor asook om noodsaaklike inligting te bekom. Sy het beklemtoon dat elke aansoek volgens meriete beoordeel moet word en volgens die aard van die dokument wat op die betrokke party bedien moet word.
Die Durbanse Hooggeregshof het gevolglik verlof verleen aan die applikant om vervangende betekening met `n persoonlike Facebook-boodskap te doen. Verder, om regsekerheid te bevorder, is die applikant gelas om die betrokke kennisgewing ook in `n plaaslike koerant te adverteer, sou die verweerder om die een of ander rede nie toegang tot enige elektroniese kommunikasietoestelle hê nie.
Betekening deur `n sosiale netwerkwebtuiste soos dié van Facebook, het verskeie voordele. Dit is algemeen bekend dat mense eerder hul Facebook-boodskappe sal lees as om die koerant te lees. ‘n Kennisgewing via Facebook is daarom meer gerig en sal daarom meer waarskynlik onder ‘n persoon se aandag kom as ‘n advertensie in ‘n koerant se regskennisgewings. Hierdie bevel word allerweë beskryf as ‘n pioniersuitspraak en Facebook-gebruikers in Suid-Afrika kan met genoegdoening “like” kliek.
NOTA AAN PROKUREURS:
Kyk- CMC Woodworking Machinery (Pty) Ltd v Pieter Odendaal Kitchens (6846/2006) [2012] ZAKZDHC 44; 2012 (5) SA 604 (KZD) (3 August 2012)
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.