In ‘n onlangse geval het die trustees van die regspersoon van ‘n sekere deeltitelskema ‘n wiel van die motor van een van die huiseienaars geklamp het (“wheel clamp”) omdat hy nie op sy toegekende parkeerplek geparkeer het nie.
Alhoewel die huiseienaar nie op sy toegekende parkeerplek parkeer het nie, kon hy nie verstaan waarom sy voertuig se wiel geklamp kon word vir parkering voor sy eie voorstoep terwyl hy in die loop van die dag in en uit die huis bedrywig was nie, en was hy van mening dat dit hoogs onregverdige en onredelike optrede deur die trustees van die regspersoon was.
Dit is ‘n alombekende waarheid dat elke huiseienaar in `n deeltitelskema nie net kan doen wat hy wil nie want dit sou lei tot totale wanorde in die deeltitelskema. Dit is die plig van die trustees van die regspersoon om die reëls op alle eienaars en huurders af te dwing. Wanneer ‘n persoon ‘n eiendom in ‘n deeltitelskema koop sal daar heel waarskynlik `n bepaling in die ooreenkoms wees wat sê dat die huiseienaar, onder andere, die reëls van die regspersoon moet nakom.
Die vraag ontstaan egter of die huiseienaar se hande afgekap is indien die reëls van die deeltitelskema op ‘n algemene vergadering deur die trustees van die regspersoon gewysig is en die huiseienaar nie die reëls nakom nie.
Remedies beskikbaar vir huiseienaars en huurders
Indien daar rede is om te glo dat die trustees van die regspersoon van ‘n deeltitelskema ultra vires (buite hul magte) opgetree het, het huiseienaars twee remedies wat beskikbaar is, naamlik arbitrasie of ‘n interdik.
- Arbitrasie stap-vir-stap
Die ontevrede huiseienaar kan aansoek doen vir arbitrasie, ‘n prosedure wat nie meer as ‘n maksimum van 52 dae moet duur nie.
Kragtens Artikel 71 van Aanhangsel 8 in die Wet op Deeltitels 95 van 1986 is die doel van arbitrasie nie, soos sommige glo, om nakoming van die reëls te bewerkstellig nie.Die voorgeskrewe prosedure vereis dat die ontevrede huiseienaar sy geskil skriftelik moet voorlê aan die trustees van die regspersoon van die deeltitelskema 14 dae nadat die probleem ontstaan het, waarna die trustees die geskil sal ondersoek en probeer om die geskil op te los. Indien die geskil nie opgelos kan word nie, kan of die huiseienaar of die trustees van die regspersoon versoek dat die aangeleentheid vir arbitrasie verwys word.
Die arbiter het ‘n wye diskresie in die maak van ‘n kostebevel. Onder andere mag hy betaling deur die een party, meer as een party gesamentlik, of in `n spesifieke verhouding gelas, afhangende van die uitslag van die arbitrasie. Die arbiter se beslissing kan ook ‘n bevel van die Hooggeregshof gemaak word op aansoek deur enige party of deur ‘n party wat geraak word deur die arbitrasie.
- Alternatiewe remedie
Daar is ‘n verdere remedie beskikbaar vir die huiseienaar, naamlik ‘n interdik of
enige vorm van dringende of ander regshulp by ‘n hof met jurisdiksie.Hou egter die volgende waarskuwing in gedagte:
‘Furthermore, the interdependence of the owners and occupants of units and the unavoidable requisite of harmonious co-existence render an interdict inadequate and indeed improper in the sectional title context. A successful application for an interdict can permanently ruin the harmony of a scheme’
(LAWSA aw para 238)
In wese kan jy die stappe, soos hierbo uiteengesit volg vir verligting indien die reëls van jou deeltitelskema toelaat dat die trustees van die regspersoon jou motor se wiel mag klamp indien jy nie die reëls gehoorsaam nie, en jy rede het om te glo dat die regspersoon buite sy magte optree of dat die reëls onredelik is.
NOTA AAN PROKUREURS: Kyk Artikel 71 van Aanhangsel 8 Deeltitelwet 95 van 1986
VERWYSDE WERK: Kyk die artikel “Managing the Unmanageable ” deur Tertius Maree, gepubliseer in De Rebus, Augustus 1999.
Kyk ook die artikel “Arbitration in Sectional Title Disputes” deur Tertius Maree, gepubliseer in De Rebus, Augustus 1998.
Verwysings:
Ronnilie Theron
Honey Prokureurs
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.