Na aanleiding van ‘n toename in die soort sake is dit van belang om die risiko’s aan eienaars uit te wys, hoe aanspreeklikheid ontstaan en hoe om hierdie risiko’s te ondervang.
Wanneer ‘n persoon deur ‘n hond gebyt word kan die beseerde persoon aksie instel teen die eienaar van die hond vir die verhaal van skade. Skuld aan die kant van die eienaar is nie ‘n vereiste vir aanspreeklikheid om te vestig teen die eienaar nie.
Indien die vereistes wat hieronder behandel word aan voldoen word is dit nie vir die beseerde persoon nodig om enige skuld aan die kant van die eienaar te bewys nie. Selfs al was die eienaar dus nie nalatig in enige opsig kan hy/sy steeds aanspreeklik gehou word vir beserings of skade veroorsaak deur die hond.
Wat moet bewys word ten einde met so eis te slaag?
Vir die beseerde persoon om te slaag met ‘n eis moet die volgende bewys word:
- Die persoon wat gedagvaar word moes die eienaar van die dier gewees het toe die voorval plaasgevind het. Die blote feit dat ‘n persoon in beheer van ‘n dier was is nie genoegsaam nie;
- Die dier moet ‘n huishoudelike dier wees wat gevolglik enige wilde diere uitsluit;
- Die beserings was veroorsaak in omstandighede waar die dier strydig met sy eie natuur opgetree het. Die dier moes gevolglik anders opgetree het as wat verwag kan word van ‘n wel opgeleide dier van dieselfde soort. Ons howe ag ‘n hond wat byt se optrede as strydig met sy aard. Waar die hond egter deur ander faktore ontlok word of geterg word, word dit nie geag dat die hond strydig met sy natuur optree nie;
- Die persoon wat beseer is moet regmatig teenwoordig wees waar skade veroorsaak was. ‘n Persoon wat dus onregmatig ‘n perseel betree behoort in normale omstandighede nie te slaag met ‘n aksie nie.
Verwere beskikbaar vir die eienaar van die hond
Alhoewel skuld aan die kant van die eienaar van die hond nie ‘n vereiste is, is daar ‘n verskeidenheid verwere beskikbaar aan die eienaar in die geval van ’n eis vir skade. Die verwere sluit die volgende in:
- Skuld aan die kant van die beseerde persoon. Byvoorbeeld, die beseerde persoon het die dier geprovokeer deur die hom te slaan, voorwerpe na hom te gooi of deur die dier te terg;
- ‘n Derde party het die skade veroorsaak. Byvoorbeeld, ‘n derde persoon provokeer die hond, maak die hond seer of terg die hond met die gevolg dat die hond die beseerde persoon aanval;
- Provokasie deur ‘n ander dier. Byvoorbeeld, waar ‘n ander hond die eienaar se hond aanval en die eienaar se hond dan die beseerde persoon aanval;
- Toestemming tot benadeling. Waar die beseerde persoon uitdruklik of stilswyend deur sy/haar optrede toestem tot benadeling. Dit sal byvoorbeeld, die geval wees waar die persoon gebyt word maar vooraf gewaarsku was teen die hond en waar die persoon byvoorbeeld, verklaar dat hy/sy nie bang is nie. ‘n Hof behoort te bevind dat die persoon toegestem het tot moontlike benadeling en behoort so aksie nie te slaag nie.
Watter skade kan geëis word
Met ‘n hondebyt kan ‘n wye verskeidenheid skade geëis word van die eienaar wat ondermeer pyn en lyding, verlies aan lewensgenietinge, ongeskiktheid en verminking, mediese uitgawes reeds aangegaan asook toekomstige mediese uitgawes, verlies aan inkomste insluit.
Selfs ‘n persoon wat ‘n aanval op ‘n ander waarneem kon emosionele trauma beleef het en dit dan van die eienaar van die dier eis as skade.
Dit is gevolglik belangrik vir die eienaar van ‘n hond om bewus te wees van die potensiële aanspreeklikhede vir die optrede van sy dier. Die aanspreeklikheid kan ernstige finansiële gevolge inhou en eienaars moet voorsorg tref om hulle honde te beheer en veilig binne hulle eiendom te hou.
Korttermynversekering
Meeste korttermynversekeringspolisse maak voorsiening vir hierdie tipe aanspreeklikhede teen ‘n minimale koste. Neem die tyd om die dekking met jou makelaar of versekeraar te bespreek. Eise van die aard kan astronomiese proporsies aanneem en jou versekeraar kan jou help om jou teen die risiko te verskans.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.