Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

article-5-August-nlIn Desember 2005 het Suid-Afrika die vyfde land in die wêreld en die eerste land op die Afrika-kontinent geword wat die regte van paartjies van dieselfde geslag erken.

Die Konstitusionele Hofsaak van Minister van Binnelandse Sake v Fourie is die baanbrekerbesluit wat homoseksuele huwelike in Suid-Afrika gewettig het.

Die regsvraag in Minister van Binnelandse Sake v Fourie was tweeledig:

Eerstens moes die Hof besluit of die feit dat geen voorsiening vir homoseksuele huwelike in enige wet gemaak is nie, neerkom op die ontkenning van gelyke beskerming van die wet en onregverdige diskriminasie deur die staat teen homoseksuele persone op grond van hul seksuele oriëntasie. Tweedens, indien sodanige onregverdige diskriminasie bestaan, moes die  hof besluit op ‘n gepaste remedie.

Uitspraak

In ‘n eenparige besluit het die Konstitusionele Hof verklaar dat die algemene definisie van die huwelik en artikel 30 (1) van die Wet op Huwelike, wat homoseksuele huwelike uitsluit, strydig is met artikel 9 (1) en 9 (3) en artikel 10 van die Grondwet wat handel oor die reg tot gelykheid en die reg op menswaardigheid onderskeidelik.

Die Hof het beklemtoon dat Suid-Afrika verskeie familieverhoudinge het en aldus het die Hof beslis dat nie een spesifieke vorm afgedwing kan word as die enigste sosiaal en wetlik aanvaarbare een nie. Die Hof beklemtoon ‘n grondwetlike noodsaaklikheid om die lang geskiedenis in Suid-Afrika van die marginalisering en vervolging van homoseksuele persone, te erken. Verder erken die Hof die gebrek aan omvattende wetlike regulering van die gesinsregte van homoseksuele persone.

Daar is bevind dat die uitsluiting van homoseksuele huwelike ‘n aanduiding is dat homoseksuele persone beskou word as “buitestaanders”. In die meerderheidsbeslissing van Regter Sachs, skryf hy: To penalise people for being who and what they are is profoundly disrespectful of the human personality and violators of equality. Equality means equal concern and respect across difference.” In wese het die hof die “reg om verskillend te wees”, erken. 

Godsdienstige argumente

Onder die verskeie argumente teen homoseksuele huwelike was onvermydelike standpunte wat deur godsdienstige instellings gehuldig is en wat die Hof met respek aangehoor het. Daar is egter bevind dat regters in ‘n onhoudbare situasie geplaas sou word as daar van hulle verwag sou word om godsdienstige tekste te vertolk en kant te kies oor kwessies wat sterk verdeeldheid binne godsdienstige liggame veroorsaak het. In `n oop en demokratiese samelewing, soos beoog deur die Suid-Afrikaanse Grondwet, moet daar  wedersydse respek bestaan ​​tussen die sekulêre en die godsdienstige. Verder was die hof van mening dat erkenning van selfdegeslag-huwelike op geen manier godsdienstige instellings sou dwing om homoseksuele huwelike te aanvaar of sulke huwelike binne hul gekose geloof te moet verrig nie.

Civil Union Act 17 van 2006

Die finale bevinding van die hof was dat die gemenereg-definisie van die huwelik strydig is met die Grondwet en ongeldig is in die mate dat dit nie toelaat dat paartjies van dieselfde geslag die status en die voordele gekoppel met die verantwoordelikhede, wat aan heteroseksuele paartjies verleen word, kan geniet nie. Verder is artikel 30 (1) van die Wet op Huwelike ongeldig verklaar in die mate dat dit uitvoering gee aan die uitsluiting van selfdegeslag-huwelike. Ten einde die situasie reg te stel is die parlement twaalf maande gegun om die defek te genees deur die implementering van wetgewing.

Die finale verligting het gekom in die vorm van die Civil Union Act 17 van 2006, wat voorsiening maak vir selfdegeslag-huwelike en wat, saamgelees met die Wet op Huwelike, beteken dat  enige individu in Suid-Afrika  nou ‘n huwelik kan sluit hetsy in sy tradisionele vorm (kragtens die Wet op Huwelike) of in die vorm van ‘n siviele verbintenis (onder die Civil Union Act). Siviele vennootskappe/verbintenisse is presies dieselfde as huwelike vir sover dit wetlike gevolge betref en verskil bloot in naam.

Gevolgtrekking

Een van die belangrikste lesse wat geleer kan word uit hierdie saak is hierdie verklaring gemaak deur die Hof: “At issue is a need to affirm the very character of our society as one based on tolerance and mutual respect. The test of tolerance is not how one finds space for people with whom, and practices with which, one feels comfortable, but how one accommodates the expression of what is discomfiting.”

Die  inwerkingtreding van die nuwe wet verander dus die diskriminerende agtergrond van die gemenereg ten opsigte van selfdegeslag-verhoudings. Die gevolge van ‘n siviele verbintenis is nou dieselfde as in ‘n huwelik van ‘n heteroseksuele paartjie. Daar moet egter kennis geneem word dat ‘n ongeregistreerde homoseksuele verhouding nie deur die bepalings van hierdie Wet beskerm word nie en dat die wet voorsiening maak vir kerke om te weier om siviele verbintenisse uit te voer.

NOTA AAN PROKUREURS:
Kyk Minister of Home Affairs and Another v Fourie and Another (CCT 60/04) [2005] ZACC 19; 2006 (3) BCLR 355 (CC); 2006 (1) SA 524 (CC) (1 December 2005);
Kyk ook Civil Union Act 17 van 2006, en die Wet op Huwelike 25 van 1961.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Kliek hier om die volledige vrywaring te sien