As jy versuim om ʼn betaling te maak op ‘n kredietooreenkoms en die kredietverskaffer aksie teen jou neem, het jy, volgens artikel 129 (3)(b) in kombinasie met artikel 129 (3)(a) en 129 (4) van die Nasionale Kredietwet (“NCA”), sowel as die saak van FirstRand Bank Limited v Nomsa Nkata, tyd om die kredietooreenkoms te herstel tot en met goedere in eksekusie verkoop word.
Alvorens die Nasionale Kredietwet in werking getree het, was die standpunt rakende die reg van die verbruiker om ‘n kredietooreenkoms te herstel deur die gemene reg bepaal. Volgens hierdie beginsel sou ‘n verbruiker in staat wees om die kredietooreenkoms te herstel deur die betaling van volle bedrag geskuld aan die kredietverskaffer, tesame met die verheffing van die koste verbonde aan die wanbetaling sowel as die koste verbonde aan die toepassing van die ooreenkoms. Volgens die NKW (Nasionale Krediet Wet), kan eienaarskap en die besit van ‘n item of perseel teruggekry word deur die betaling van slegs die agterstallige bedrag op daardie datum, saam met alle ander kostes.
Die vraag ontstaan egter, wanneer is dit te laat om die bedrae wat agterstallige is in die uitvoeringsproses te betaal. Hierdie kwessie is onlangs in die saak van FirstRand Bank Limited v Nomsa Nkata aangespreek. Artikel 129 (3) en (4) van die NKW bepaal die volgende:
(3) Volgens subartikel (4) kan ‘n verbruiker;
(a) te enige tyd ’n ooreenkoms, waar die verbruiker aan wanbetaling skuldig is, herstel alvorens die kredietverskaffer die ooreenkoms kanselleer deur alle agterstallige bedrae, tesame met die kredietverskaffer se toegelate wanbetalingsadministrasiefooie en redelike koste met betrekking tot die afdwinging van die ooreenkoms te betaal tot en met die tyd van herstel; en
(b) na voldoening aan die vereistes soos daargestel in paragraaf (a), enige eiendom wat na gelang van ʼn beslagleggingsbevel deur die kredietverskaffer teruggeneem is, weer in besit neem.
(4) ‘n Verbruiker mag nie ʼn kredietooreenkoms in die volgende scenario’s herstel nie:
(a) na die verkoop van enige eiendom ooreenkomstig;
(i) ‘n beslagleggingsbevel; of
(ii) teruggawe van eiendom ingevolge artikel 127.
(b) nadat enige hofbevel wat die ooreenkoms afdwing, ten uitvoer gebring is of
(c) ná die beëindiging van die ooreenkoms soos uiteengesit in artikel 123.
Die Appèlhof het in die FirstRand Bank saak bevind dat beide die gemenereg sowel as die NKW bepaal dat, “the Rubicon has been and remains the sale in execution.” Dit beteken dat die verbruiker ten enige tyd, tydens die verkoop in eksekusie, ’n einde aan die uitvoering van die bepaalde verrigtinge kan bring en die ooreenkoms herstel deur die betaling van die agterstallige bedrag, tesame met koste.
Die rede vir die bogenoemde in die NKW was om voorsiening te maak vir die feit dat baie verbruikers geld oor ‘n lang tydperk leen, om sodoende groot aankope te finansier, soos die aankoop van ‘n huis of ‘n motorvoertuig. Dit is ook genoem in die bogenoemde uitspraak dat minder welvarende burgers gebruik maak van uitgebreide krediet om huishoudelike items en toerusting aan te koop. Daarom help die NKW verbruikers deur die opsie daar te stel om die agterstallige bedrag te betaal, eerder as om die hele bedrag van die skuld te betaal.
In die FirstRand Bank saak het die hof bevind dat artikel 129 (4)(b) slegs gebruik kan word voordat die verkoop plaasgevind het en nie daarna nie. Sodra die verkoop plaasgevind het, kan die kredietooreenkoms nie tussen die verbruiker en die kredietverskaffer herstel word nie. Indien jy jouself in die tydelike posisie vind waar jy nie in staat is om die maandelikse paaiemente van jou kredietooreenkoms te bekostig nie, maar op ‘n later stadium dit weer kan betaal en nie wil hê dat die kredietooreenkoms kanselleer word nie, dan is dit noodsaaklik dat jy die geld wat agterstallig is aan die Kredietverskaffer betaal voor die uitwinningsverkoping. As dit al gebeur het sal jy nie in staat wees om om weer die ooreenkoms daarna te herstel nie.
Bibliografie
- Nasionale Kredietwet, 34 van 2005
- Firstrand Bank Limited v Nomsa Nkata, (213/14) [2015] ZASCA 44 (26 March 2015)
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)