Sharing A Holiday Home? Beware The Deadlock Danger!
June 8, 2012
Noisy Neighbours – Courts to The Rescue
July 12, 2012

Arrestasie Vir Dronkbestuur – Wanneer Is Dit Wettig?

Enige persoon met ‘n inkriminerende uitslag op ‘n alkoholblaastoets of bloedtoets by ‘n padblokkade, kan gearresteer word op ‘n klagte van bestuur onder die invloed van alkohol. Jy is ook nie geregtig om te weier om getoets te word nie.

Volgens ‘n onlangse uitspraak van die Appèlhof is hierdie toetse deurslaggewend vir regmatige arrestasie. In die afwesigheid van so ‘n toetsresultaat kan die polisie nie ‘n motoris regmatig arresteer waar die beampte se vermoede slegs gebaseer is op “die blote feit dat hy liggies na alkohol ruik” nie. 

Die arrestasie en aanhouding 

  • ‘n Polisiebeampte wat van diens af was, is deur sy kollega gearresteer. Die kollega het vermoed dat hy onder die invloed van drank bestuur het. Hy het self die ander beamptes afgetrek om hulp te vra, nadat sy motor in die nag op ‘n gevaarlike plek van die pad gery het en in ‘n sloot vasgeval het.
  • Hy is vir vier en ‘n half ure in onmenslike en verskriklike toestande in die polisieselle aangehou, voordat ‘n bloedtoets bevestig het dat hy wel onder die wettige perk was. Die strafregtelike klagte teen hom was gevolglik teruggetrek.

Arrestasie sonder Lasbrief – wat word vereis?

Die Hof beslis dat waar ‘n arrestasie sonder ‘n lasbrief uitgevoer word, rus die onus op die arresterende beampte om die regmatigheid van die arrestasie te bewys. Die volgende moet spesifiek bewys word: –

  1. Die arresterende beampte moet ‘n vrederegter wees. Die begrip sluit die volgende persone in: lede van die SAPD, landdroste, regters, korrektiewe beamptes en ander amptenare wat vir spesifieke doeleindes of areas aangestel is (soos munisipale polisiebeamptes, inspekteurs wat deur die  Nasionale Verbruikerskommissie aangestel is, en dies meer);
  2. Die arresterende beampte moet ‘n redelike vermoede hê;
  3. Hy moet vermoed dat die verdagte enige van die gespesifiseerde reeks van ernstige misdrywe gepleeg het; en
  4. Die vermoede moet op redelike gronde gebaseer wees. Soos wat die Hof dit stel, is die regsvraag “whether any reasonable person, confronted with the same set of facts, would form a suspicion that a person has committed a [specified] offence”. 

Die toekenning van skadevergoeding

Die Hof het hier bevind dat die arresterende beampte se vermoede nie op redelike gronde gebaseer was nie.  Die feit dat die gearresteerde na alkohol geruik het en dat sy voertuig die pad verlaat het en in ‘n sloot beland het, was nie voldoende nie. Daar was geen getuienis voor die hof dat hy onvas op sy voete was nie, dat sy tong gesleep het, dat hy nie in ‘n reguit lyn kon loop nie of dat sy oë bloedbelope was nie.  Hierdie is aanvaarde en bekende aanduidings van ‘n persoon wat onder die invloed van alkohol verkeer. Die Hof bekragtig dus die skadevergoedingstoekenning van R50,000.00 aan die gearresteerde vir sy wederregtelike arrestasie en aanhouding.

In ‘n soortgelyke  saak wat onlangs voor die Hoë Hof gedien het, is ‘n bedrag van R70,000 se skadevergoeding aan ‘n geheelonthouende pastoor toegeken. Hy is gearresteer en vir 5 ure in ‘n polisiesel aangehou. Hierna moes hy vir 6 maande in spanning wag, totdat sy bloedtoetse onomwonde bewys het dat hy geen alkohol ingeneem het nie.

© DotNews, 2005-2012. This newsletter is a general information sheet and should not be used or relied on as legal or other professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your legal adviser for specific and detailed advice.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X