Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

“Water, water, everywhere, nor any drop to drink.” (The Rime of the Ancient Mariner, Coleridge) 

Jy is in dispuut met jou plaaslike owerheid oor die omvang van jou munisipale rekening. Dan sny hulle jou watertoevoer af. Wat is die regsposisie ter sprake? Die Hoogste Hof van Appèl het onlangs die toepaslike regsposisie neergelê:–

  • Toegang tot water is nie alleen ‘n persoonlike saak tussen jou en die munisipale verskaffer van water nie – daar is ook statutêre en basiese grondwetlike regte ter sprake.
  • Enige inperking of opskorting van waterdienste moet gevolglik op regverdige en billike wyse geskied.

In hierdie geval het die eienaar ‘n karavaanpark op sy eiendom bedryf. Hy was in formele dispuut met die munisipaliteit oor ‘n waterrekening van R182,000. Die munisipaliteit het egter aangedring op volle betaling. Dit is nie betaal nie en die munisipaliteit het ingevolge hul water- en invorderingsregulasies voortgegaan om die watertoevoer af te sny.

Die eienaar het die plaaslike landdroshof op ‘n dringende basis genader; in sy bevel gee die hof opdrag aan die munisipaliteit om die watertoevoer sonder versuim weer aan te sluit. Hierdie bevel van die landdros is twee maal op appèl bekragtig. Die Appèlhof bevestig dat die munisipaliteit die watertoevoer afgesny het, sonder om aan hul eie interne prosedures vir dispuutbeslegting te voldoen. Daarom was die opskorting van waterdienste nóg regverdig, nóg billik en gevolglik ongeldig.

Let daarop dat die verwysing van ‘n dispuut jou nie vrystel van die verpligting om jou rekening steeds maandeliks te betaal vir deurlopende en nuwe verbruik nie. Dit lyk ook of die saak oor die rekening en die verbruik wel in die munisipaliteit se guns beslis sou gewees het, indien hulle net hul eie interne prosedures nagekom het. Verkry advies indien jy onseker is oor jou posisie!

© DotNews, 2005-2012. This newsletter is a general information sheet and should not be used or relied on as legal or other professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your legal adviser for specific and detailed advice.