Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

Jou naasbestaandes gaan met jou afsterwe meer as genoeg hê om te hanteer en te verwerk. Maak seker dat jou finansies in plek is en dat daar nie ruimte vir enige dispute oor jou laaste wense is nie. Die eerste stap in hierdie rigting is: Stel jou testament op!

Indien jy sonder ‘n testament tot sterwe kom sterf, jy intestaat. Dit beteken dat jy geen leiding of aanwysings oor die volgende aspekte kon gee nie:
1. Wie as die eksekuteur van jou boedel aangestel moet word. Nomineer eerder self ‘n betroubare en bevoegde professionele persoon om tydig en onafhanklik jou erfgename se belange te beskerm; en
2. Wie erf wat? Sonder ‘n geldige testament is daar voorgeskrewe formules oor vererwing wat dalk nie ooreenstem met die werklike behoeftes van jou naasbestaandes nie. Jou nagelate gade kan dalk met slegs ‘n kindsdeel van jou boedel eindig, terwyl sy eintlik die hele boedel benodig om te oorleef;
3. Hoeveel belasting deur jou boedel betaalbaar is. Jy kan belastingvoordele en besparing met sinvolle boedelbeplanning bewerkstellig.

Die Hof se waarskuwing – Gebruik ‘n Professionele Adviseur!

“It is a never-ending source of amazement that so many people rely on untrained advisors when preparing their wills, one of the most important documents they are ever likely to sign.” Met hierdie openingswoorde van ‘n Regter van die Hoogste Hof van Appèl is ‘n uitspraak oor ‘n ongeldige testament ingelui. Die gevare daaraan verbonde om nie gepaste professionele hulp in te roep nie, word hier deeglik uitgewys.

Hier het die “ongeldige” testament aanleiding gegee tot ‘n bittere familietwis en uitgerekte en duur hofsake. Die bepalings van die testament was onduidelik, tegniese regsterme is verkeerd gebruik en die testament het ook nie aan die voorgeskrewe formele vereistes voldoen nie. Die oorledene se tweede vrou het aangevoer dat sy hele boedel aan haar bemaak was. Die kinders van die vorige huwelik het die geldigheid van die testament betwis. Hulle was suksesvol in die Hoë Hof en die hof het die testament ongeldig verklaar omdat dit te vaag en verwarrend bevind is. Hierdie bevinding is in die Appèlhof tersyde gestel en die oorspronklike testament is geldig verklaar.

Gelukkig gaan jy nie by wees wanneer ‘n testament se slordige bewoording gebaseer op onvanpaste advies, die lewe vir jou naasbestaandes gaan bemoeilik nie. Vermy dit eerder deur jou testament gereeld en deur ‘n kundige professionele persoon met gepaste kennis van boedelsake te laat opstel.

© LawDotNews is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.