Direkteure se optrede in stryd met die belang van die maatskappy.
Jy is die direkteur van ‘n maatskappy en jy ontdek dat een van jou mede-direkteure in stryd met die belang van die maatskappy optree. Jy is van mening dat die maatskappy hom moet dagvaar om die maatskappy se verliese te verhaal. Jou mede-direkteur sal uiteraard nie sy toestemming hiervoor verleen nie. Wat staan jou nou te doen?
Direkteure, aandeelhouers en werknemers: neem gerus kennis van die remedies wat die Maatskappywet in so ‘n geval bied. Dit maak voorsiening dat direkteure en ander belanghebbende partye, sonder ‘n formele direksiebesluit, in die naam van die maatskappy mag litigeer. Die maatskappy moet wel eers in kennis gestel word van hierdie voorneme en die maatskappy het dan die geleentheid om die beweerde aantygings te ondersoek.
Die Hof sal jou slegs toelaat om in die naam van die maatskappy te litigeer indien dit tevrede is dat:
1. Jy in goeie trou optree, en
2. Dat ‘n ernstige kwessie met materiële gevolge vir die maatskappy ter sake is, en
3. Die voorgenome litigasie in die beste belang van die maatskappy is.
Broedertwis en die Hof tot die redding
In ‘n onlangse geval in die Hoë Hof was twee broers die enigste direkteure van ‘n maatskappy. Ongelukkig was daar ook ‘n langtermyn vete tussen hulle oor die wanaanwending van geld. Die een broer het die ander daarvan beskuldig dat hy misbruik gemaak het van die maatskappy se kredietkaartfasiliteit en dat meer as R1.1 miljoen rand betrokke was.
Die ander direkteur (en broer) het dit ontken en het beweer dat die uitgawes tereg in sy hoedanigheid as direkteur, aangegaan is. Hy het ook beweer dat sy broer nie in goeie trou nie, maar met kwade bedoelings opgetree het, as gevolg van hul jare lange twis.
Die Hof het nie met hierdie laaste standpunt saamgestem nie. Die Hof bevind op die spesifieke feite dat die applikant (die beswaarde direkteur) heeltemal in goeie trou en in die beste belange van die maatskappy optree. Die Hof gee hom dus die nodige toestemming om ‘n geding in die naam van die maatskappy teen sy broer in te stel.
Nota: Indien jy in ‘n soortgelyke situasie verkeer, verkry behoorlike advies voordat jy optree. Die prosedures wat in die wet voorgeskryf word, moet noukeurig nagekom word.
© LawDotNews is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.