Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

Daar is altyd ‘n balans tussen betaling en ontvangs van goedere en dienste. Wees versigtig waar ‘n verskaffer aandring op volle betaling, voordat hy in staat is om die hele bestelling of diens te kan lewer.

Eerstens, plaas dit jou in ‘n swakker posisie indien ‘n dispuut ontstaan. Die bekende gesegde  “Possession is nine-tenths of the law” is miskien nie regtens absoluut nie, maar dit help beslis as die geld nog in jou rekening is, wanneer daar probleme tussen jou en die verskaffer ontstaan.

Tweedens, as die verskaffer self finansiële probleme ervaar, kan dit jou op twee maniere benadeel:

  1. Die verskaffer gebruik die gelde wat jy oorbetaal het, sonder dat jy enige produkte daarvoor ontvang.  Indien die verskaffer gelikwideer word, het jy slegs ‘n “konkurrente” eis wat jy kan indien.  Ongelukkig is ‘n konkurrente eiser die laaste wat ‘n dividend in likwidasie ontvang. Geen dividende of  dividende van so min as 5 sent in die rand is algemeen.
  2. Indien jou fondse in die verskaffer se bankrekening inbetaal word, kan die bank dit aanwend om die verskaffer se oortrokke fasiliteit te verminder. Dit laat jou weereens met ‘n skamele eis teen die verskaffer, soos wat hieronder bespreek word.

Hierdie tweede gevaar word in ‘n onlangse saak van die Hoogste Hof van Appèl hanteer. Hier het ‘n koper  ‘n voorskotbetaling in die bankrekening van sy verskaffer gemaak. Die bank het hierdie betaling toegewys ter vermindering van die verskaffer se oortrokke rekening by die bank.

Die Hof bevind dat hierdie optrede van die bank regmatig was. Die Hof beslis dat wanneer fondse in ‘n bankrekening inbetaal word, verkry die bank onmiddellik eienaarskap van hierdie fondse. Die rekeninghouer verkry op sy beurt slegs ‘n vorderingsreg teen die bank vir die betaling van enige fondse in krediet.

Hierdie vorderingsreg is nie altyd absoluut of ongekwalifiseerd nie. Die Hof bevind egter dat in hierdie spesifieke geval was die bank wel geregtig om die fondse teen die oortrokke rekening af te speel. Aangesien daar geen sodanige ooreenkoms was nie, was daar geen verpligting op die bank om hul belang in die fondse ondergeskik aan die van die kliënt te stel nie. Dit laat dus die agterdeur oop dat ‘n aankoper wel kan aandring dat ‘n bank die aankoopprys moet terugbetaal indien die verskaffer nie die produkte lewer nie.

Prakties gesproke  sal dit slegs in uitsonderlike gevalle beding kan word, waar groot bedrae ter sprake is. Dit is onrealisties om te verwag dat ‘n bank in die algemeen op hierdie basis fondse sal ontvang.

In hierdie spesifieke geval was die koper die bedrag van R710 111,00 wat hy oorbetaal het kwyt, sonder dat hy enigiets het om daarvoor te wys.  Maak seker dat dit nie met jou gebeur nie.

© LawDotNews is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.