Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

Die woning en die belastingvoordele 

Indien die woning waarin jy bly in die naam van ‘n maatskappy, beslote korporasie of trust geregistreer is, neem dan gerus kennis van ‘n tydelike geleentheid om wesentlike belasting te bespaar. Daar is slegs ‘n beperkte geleentheid om hiervan gebruik te maak, so moet eerder nie te lank talm nie.

Die agtergrond is dat SARS vir hul eie gerief en effektiwiteit hul administrasie van belastingbetalers wil vergemaklik en vereenvoudig, deur die getal regsentiteite en trusts in die belastingstelsel te verminder. Dit sal SARS dan die geleentheid gee om beter op ‘n kleiner getal oorblywende belastingpligtiges te fokus.

Die Suid Afrikaanse Inkomstediens is dus ten gunste daarvan dat wonings nie in trust of deur regsentiteite gehou word nie. Daarom moedig SARS kwalifiserende mense aan om sodanige wonings eerder in hul persoonlike name te registreer. Indien jy aan die vereistes voldoen, sal sodanige oordrag geskied sonder dat enige Hereregte of dividendbelasting aan SARS betaalbaar sal wees.   Kapitaalwinsbelasting sal ook oorgedra word en sal eers betaalbaar wees wanneer die nuwe eienaar die eiendom verkoop.

Waarom sal mens dit wil doen? Belastingbesparing. 

Wanneer die woning eendag in die toekoms verkoop word, sal daar Kapitaalwinsbelasting (KWB) betaalbaar wees. Die voordeel van die oordrag is dat die belasting op die kapitale wins aansienlik minder gaan wees indien die woning in die naam van ‘n natuurlike persoon geregistreer is, teenoor die hoër koers van ‘n regsentiteit of ‘n trust. Die grootste besparing op KWB spruit daaruit dat die primêre woning uitsluiting van R 2 miljoen slegs op natuurlike persone van toepassing is. So ook die verdere jaarlikse uitsluiting van R30,000.

Wanneer ‘n regsentiteit sy eiendom verkoop en die opbrengs aan sy aandeelhouers uitkeer, is daar ook nog dividendbelasting van 15% op die uitkering betaalbaar. Dit is nie die geval met natuurlike persone nie en dus ‘n verdere voordeel vir natuurlike persone.

Die onderstaande tabel dui die toekomstige besparing in kapitaalwinsbelasting (en dividendbelasting) aan indien die eiendom in ‘n natuurlike persoon se naam oorgedra en gehou word.

N.B. Die onderstaande syfers dien slegs as algemene oorsig ten einde die beginsel van die moontlike belastingbesparing oor te dra. Kry dus spesifieke advies oor jou situasie en bepaal dan die presiese belastingeffek op jou individuele geval. 

 

 

 

 

 

VERDUIDELIKENDE NOTAS VIR DIE TABEL

  • Dividendbelasting van 15% is betaalbaar waar maatskappye en beslote korporasies die opbrengs aan hul aandeelhouers of lede wil uitbetaal. So indien jy die opbrengs van ‘n eiendomstransaksie vanuit een van hierdie regsentiteite in ontvangs wil neem, hou dan in gedagte dat jy ‘n verdere 15% dividendbelasting gaan betaal bo en behalwe die toepaslike kapitaalwins.
  • ‘n “Spesiale trust” (dit is ‘n trust wat uitsluitlik opgerig is vir die versorging van ‘n persoon wat ernstige liggaamlike of verstandelike gebreke het) word in hierdie geval as ‘n natuurlike persoon belas.
  • Vakansiewonings – die “primêre uitsluiting” van R 2 miljoen is slegs op primêre wonings van toepassing en vakansiewonings is dus hiervan uitgesluit. Daar is egter steeds belastingbesparing indien die vakansiewoning in die naam van ‘n natuurlike persoon oorgedra word.
  • By afsterwe word die jaarlikse uitsluiting vir kapitale wins verhoog na R300,000 vir belastingdoeleindes in die jaar van dood.
  • Hierdie uitsluiting word teen die nuwe verhoogde koerse aangedui wat binnekort in werking tree.
  • KWB vir individue word hier teen die maksimum marginale koers aangedui. Die belasting vir enigiemand met ‘n laer marginale koers sal dus nog minder wees en die aangeduide besparing sal gevolglik nog groter wees.
  • In geval van ‘n trust kan die kapitaalwinsbelasting darem afgebring word deur ‘n uitkering aan ‘n natuurlike persoon of persone (trustbegunstigdes) en die aanslagkoers sal dan teen die onderskeie trustbegunstigdes se marginale belastingkoers gehef word.

Die tyd raak min …

Jy sal voor die sperdatum van 31 Desember 2012 moet optree om hiervan gebruik te maak.

Daar is heelwat ingewikkelde permutasies en grys gebiede. Neem dus betyds behoorlike instruksies, veral oor die volgende drie aspekte:

  1. Kwalifiseer jy vir hierdie geleentheid?
  2. Indien jy kwalifiseer, sal dit in jou spesifieke geval en met jou spesifieke omstandighede tot jou voordeel wees?
  3. Hoe moet die transaksie gestruktureer word om jou die maksimum voordeel te gee?

Algemene vrae:

  • Kwalifiseer ek? Nie almal gaan kwalifiseer nie, maar ondersoek die situasie en konsulteer dan met jou prokureur hieroor. Indien die woning wat in die regsentiteit of trust geregistreer is, hoofsaaklik vir residensiële doeleindes gebruik word, is die kanse goed dat die geval sal kwalifiseer.
  • Sal ‘n vakansiewoning of tweede residensiële woning kwalifiseer? Ja, hierdie voordeel is wel van toepassing op wonings, al is dit nie die primêre woning nie. Dit moet net hoofsaaklik vir residensiële – eerder as kommersiële – gebruik aangewend word. Die primêre woning uitsluiting van R2 miljoen vir KWB sal dan egter nie van toepassing wees nie.
  • Wat van ‘n maatskappy- en truststruktuur? Indien die woning deel is van ‘n meervlakkige struktuur (die huis word in ‘n maatskappy gehou en die aandeelhouding in hierdie maatskappy word in ‘n trust of in ‘n verdere maatskappy gehou) is hierdie voordeel in beginsel ook op jou van toepassing. Daar is egter spesifieke vereistes en beperkinge wat neergelê is, so jy sal kundige advies hieroor moet inwin.
  • Selfs al voldoen my geval aan die vereistes, is dit werklik tot my voordeel?  Dit is waarskynlik die belangrikste vraag van almal. Verkry kundige advies hieroor. Dit mag wees dat in jou spesifieke geval daar baie goeie redes bestaan waarom die eiendom nie in jou naam oorgedra moet word nie. Hier kom kwessies soos boedelbelasting, beskerming van bates teen krediteure, geleiding van trustuitbetalings na begunstigdes met lae marginale belastingkoerse, asook die ouderdom, finansiële vermoëns en lewensstyl van die natuurlike persone baie sterk na vore.
  • Is daar enige risiko’s? Dit is nodig dat die transaksie deur ‘n kundige gestruktureer word. Jy wil nie hê dat die transaksie enige skenkingsbelasting, dividendbelasting of nadelige belastingimplikasies vir die hantering van bestaande leningsrekeninge tot gevolg gaan hê nie. Indien daar ‘n verband oor die eiendom geregistreer is, moet jy die bank betyds kennis gee van die voorgenome oordrag en die gepaardgaande verbandkansellasie. Indien die eiendom nog nie afbetaal is nie, gaan die oordragnemer ‘n nuwe verband oor die eiendom moet registreer. Maak eers seker of ‘n bank ‘n verbandlening aan hierdie persoon gaan toestaan en stel ook vas teen watter rentekoers.
  • Aan wie moet die eiendom oorgedra word, hoe moet die transaksie gestruktureer word en teen watter prys? Hier gaan jy weer advies moet neem. Elke situasie gaan verskil en daar is verskillende faktore wat in berekening gebring moet word.
  • Wat is die aangeduide laaste datum van vervreemding? 31 Desember 2012.
  • Wat gaan die kostes wees? Die goeie nuus is dat daar geen Hereregte aan SARS betaalbaar gaan wees nie. KWB word ook oorgerol en sal eers bepaal en betaalbaar wees wanneer die eiendom in die toekoms weer deur die natuurlike persoon van die hand gesit gaan word. ‘n Mens moet wel voorsiening maak vir die volgende uitgawes : transportbesorgingsfooie, aktekantoorfooie, verbandkansellasiefooie, verbandregistrasiefooie van enige nuwe verbande wat geregistreer moet word om die transaksie te finansier. Dan is daar ook die kostes van deregistrasie of likwidasie van die entiteit wat die eiendom besit het. Die kostes moet ook vasgestel en betaal word.
  • Wanneer die oordrag afgehandel is, hoe lank tyd het ek om die entiteit te deregistreer of likwideer? SARS dui aan dat jy ses maande na oordrag het om met hierdie prosesse (deregistrasie of likwidasie) te begin teen die entiteit waarin die woning geregistreer was; ‘n verlenging sal waarskynlik op versoek toegestaan word. Indien die entiteit ook ander bates besit, is daar sekere toegewings wat gemaak word. Neem ook advies hieroor.

Dit is nou die tyd om advies te neem!

Hierdie is ‘n ernstige en ingewikkelde aangeleentheid. Dit is moontlik om op ‘n wettige wyse wesentlike belastingbesparings te bewerkstellig. Daar is ook die moontlikheid van verspeelde kanse en verliese indien dit nie reg gedoen word nie. Met die komplekse aard van die voorgenome oordragte, is dit noodsaaklik om dadelik met jou ondersoeke te begin en dan die nodige stappe te neem.

Vir meer inligting kotank Andre du Toit by +27(0) 28 271 3031, Jacques du Toit by    +27(0) 28 312 3626 of Charl Cilliers by +27(0) 28 212 1060.

© LawDotNews is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.