Property Focus
November 19, 2012
Onbeskermde stakings (“wildcat” strikes) en “beskermde” stakings – Die reëls en die risiko’s.
November 19, 2012

Eiendom: Die gevare van gesamentlike eienaarskap.

Getroude en ongetroude paartjies hou daarvan om hul woning en ander eiendom gesamentlik aan te koop.

Dit is meermale die regte ding om te doen, maar daar is wel gevalle waar dit meer probleme gaan veroorsaak as wat dit gaan oplos. Neem dus ‘n ingeligte besluit en verkry advies voordat julle ‘n finale besluit hieroor neem. Belangrike faktore hierby ter sprake sluit in julle onderskeie finansiële posisies, belasting, boedelbeplanning, sake – en ander risiko’s, asook praktiese oorwegings soos toegang en die reg van gebruik oor die eiendom.

As die viole ophou speel.

Solank dinge goed gaan met die verhouding kan alles nog maklik hanteer word. Dit is wanneer die verhouding tot ‘n einde kom en die partye nie meer saamwoon nie, dat daar moeilike situasies kan ontstaan.

Jy mag dalk aanvaar dat as gesamentlike eienaar gaan jy geregtig wees om 50% van die netto opbrengs te ontvang wanneer julle eers die eiendom verkoop het. Dit is nie noodwendig die geval nie! Die Hoë Hof het onlangs gewys dat dit verkeerd sal wees om ‘n gelyke verdeling as ‘n gegewe te aanvaar:

  • ‘n Getroude paartjie het oor twee eiendomme beskik wat gesamentlik in beide hulle name geregistreer was,
  • Tydens hul egskeiding was een van die groot twispunte oor die geskikte wyse van verdeling van hierdie eiendomme:
  1. 50/50 (volgens die vrou het haar man die helfte van die eiendomme aan haar geskenk), of
  2. Pro rata in vergelyking met die partye se onderskeie bydraes tot die aanvanklike verkryging van die eiendom (volgens die man was die eiendomme volgens die beginsels van ‘n gesamentlike onderneming aangeskaf).
  • Die hof het die omstandighede en feite van elke transaksie ondersoek en bevind dan ten gunste van die man wat die een eiendom aanbetref en ten gunste van die vrou, wat die ander eiendom aanbetref. Die hof beveel verder dat elke party sy eie regskostes moet betaal.

Die onsekerheid, bitterheid, vertraging en regsonkostes kon natuurlik heel maklik verhoed gewees het.

Hoe? Die remedie.  

Voordat jy enige koopooreenkoms sluit en voordat jy besluit in wie se naam die eiendom gehou moet word:

1. Neem advies om te besluit of die eiendom in net een of in beide julle name geregistreer moet word, of dalk selfs in ‘n geheel ander entiteit se naam geregistreer moet word.

  • Indien julle besluit het om die  eiendom gesamentlik te besit, behoort julle ook ‘n ooreenkoms op te stel om julle gesamentlike eienaarskap op praktiese wyse te reguleer. Sake wat hierin aangespreek moet word is die volgende: – Is julle gesamentlike eienaarskap 50/50 of is daar ‘n ander gepaste verhouding ter sprake?
  • Hoe gaan die betalings verdeel word? Dink aan alle relevante kostes soos –
    i. Die koopprys,
    ii. Verbandbetalings,
    iii. Eiendomsbelasting, herstelwerk, onderhoudswerk en onderhoudskostes,
    ander voorsiene en onvoorsiene lopende uitgawes.
    iv. Enige ander kostes?
  • Wat gebeur as julle paaie skei en julle verhouding kom tot ‘n einde? Moet julle die eiendom dan gesamentlik bemark en die netto opbrengs gelykop tussen julle verdeel? Kan een party sy gedeelte verkoop en hoe keer jy dat die oorblywende eienaar ‘n vreemdeling as gesamentlike eienaar kry? Gaan julle eerder voorsiening maak dat die een eienaar die eerste opsie gaan hê om die ander eienaar se oorblywende gedeelte oor te koop? Indien wel, watter meganisme gaan julle gebruik om by ‘n billike markprys vir hierdie gedeelte uit te kom?
  • Wat moet gebeur as een van die mede-eienaars tot sterwe kom?
  • Hoe gaan julle verskille bylê oor fundamentele aspekte soos ‘n besluit om die eiendom te verkoop, of ‘n besluit om ‘n verdere verband oor die eiendom op te neem, of om uitgawes aan te gaan vir verbeteringe of selfs vir onderhoud van die eiendom?

Ons howe worstel daagliks met geskille oor gesamentlike eienaarskap. Geskille wat tot ‘n groot mate nie daar sou gewees het nie, indien die partye vanuit die staanspoor die proses goed deurdink, deurtrap en bespreek het. Na sodanige ondersoek en evaluasie moet die partye ‘n behoorlike ooreenkoms opstel oor die toekomstige hantering van onderlinge regte en verpligtinge wat gesamentlike eienaarskap meebring. Dit kan mens slegs doen as jy die situasie hanteer en ingeligte advies verkry, voordat jy die koopooreenkoms vir gesamentlike eienaarskap teken.

© DotNews, 2005-2012. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X