Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

Die eis vir verlies aan onderhoud

Waar ‘n gesin se broodwinner as gevolg van die onregmatige optrede van ‘n ander beseer of tot sterwe kom, kan sy afhanklikes ‘n eis instel. As eiser, sal jy moet kan aantoon dat die broodwinner regtens verplig was om jou te onderhou en te ondersteun.

Wat gebeur as die partye ongetroud was?

Hierdie aksie was nog altyd beskikbaar vir partye wat formeel getroud was. In die onlangse verlede is dit ook wyer geïnterpreteer om pare van dieselfde geslag in te sluit, asook geskeides en weduwees wat volgens gewoontereg en Islamitiese reg getroud was.

Die Hoogste Hof van Appèl het ook nou bevestig dat hierdie aksie beskikbaar is vir ongetroude partye wat in ‘n vaste heteroseksuele verhouding met mekaar betrokke is en wat kontraktueel ooreengekom het op wedersydse onderhoudsverpligtinge.

Die Hof bevind dat die Padongelukkefonds verplig was om ‘n vrou en haar dogter te vergoed vir die afsterwe van die man wat hulle onderhou het. Die paartjie was ongetroud, maar was wel in ‘n vaste lewensverhouding met mekaar betrokke, en het al voorbereidings begin maak om met mekaar in die huwelik te tree.

Moenie die risiko loop om nie ‘n saamwoon – ooreenkoms op te stel nie

As jy wil eis vir ‘n verlies aan onderhoud, moet jy in staat wees om die regsplig tot onderhoud te kan bewys. Hier word dit weer duidelik gemaak hoe belangrik dit kan wees om ‘n formele ooreenkoms aan te gaan wanneer twee ongetroude mense as lewensmaats saamwoon, veral ten einde hul gesamentlike finansiële sake (op die minste) te reguleer.

© DotNews, 2005-2012. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.