Indien jy beplan om jou droomhuis in 2013 te bou is dit gerusstellend om te weet dat jy ruim statutêre beskerming teen swak vakmanskap en strukturele skade geniet.
Ten einde verbeuring daarvan te voorkom, sal jy aan die volgende vereistes moet voldoen:
- Jou bouer moet, soos deur die reg voorgeskryf, by die NHBRC (Nasionale Huisbouersregistrasieraad) geregistreer wees. Hierdie registrasie moet geldig wees en kan nie opgeskort, verval het of in ‘n proses van deregistrasie wees nie; en
- Jy moet toesien dat jy ‘n “sertifikaat van bewys van inskrywing” ontvang, alvorens die bouery ‘n aanvang neem, wat bevestig dat jou huis by die Raad “ingeskryf” is.
Jou regte
Jou boukontrak moet opgestel of professioneel nagegaan word met inagneming van die tegniese standaarde wat in die Raad se handleiding (“Home Building Manual”) voorgeskryf word, asook met welke as minimum standaarde ingevoeg moet word. Die geimpliseerde waarborge ingevolge die wet, moet ook bygevoeg word. In algemene terme sal jy waarborge insluit dat jou huis:
- Met die nodige vakmanskap en kundigheid gebou sal word (“workmanlike manner”);
- In geheel vir bewoning geskik sal wees; en
- Volgens die NHBRC se tegniese voorskrifte, planne, spesifikasies en algemene vereistes en dies meer opgerig sal word.
Jou remedies
Jy moet onmiddellik aan jou bouer kennis gee om enige probleme met die bouwerk aan te spreek en reg te maak. Dit sluit in probleme rakende die tekstiel gebruik, afwykings van die bouplanne, probleme met die ontwerp, vakmanskap, materiaal en ‘n lys van werk wat nie na wense aangepak of voltooi is nie. Die algemene afsnytyd is drie maande nadat jy okkupasie van die woning geneem het, maar langer periodes geld vir:
- Enige “ernstige strukturele defek” wat binne 5 jaar vanaf okkupasie ontstaan het en wat veroorsaak is deur die nie – nakoming van die Raad se tegniese vereistes nie nagekom is nie; en
- Enige daklek wat toeskryfbaar is aan “gebrekkige vakmanskap, ontwerp of material” wat binne 12 maande vanaf datum van okkupasie manifesteer.
(Let daarop dat hierdie slegs die minimum voorgeskrewe periodes is en dat die partye ook op langer waarborgperiodes kan ooreenkom.)
Indien jou klagtes nie aangespreek word nie, nadat jy dit aangemeld het, is jou eerste eis nog steeds teen die bouer. Die Raad sal jou wel kan help in terme van hul klagtes, bemiddeling en dissiplinêre prosedures.
Kan jy direk van die Raad eis?
Wat gebeur as die bouer weier (of nie in staat is nie) om te voldoen aan jou eis vir rektifikasie nie? Dit is algemeen bekend dat bouers en selfs konstruksiemaatskappye kom en gaan en dat van hulle finansieël deur diep waters gaan. Dit kan jou met ‘n waardelose eis en ‘n gebrekkige woning agterlaat. Gelukkig beskik jy nogsteeds oor ‘n verdere eis teen die Raad se waarborgfonds. Hierdie eis is egter beperk tot ernstige strukturele gebreke en daklekke wat ontstaan soos hierbo aangedui.
Wat is ‘n “ernstige strukturele defek”?
Die formele definisie lui as volg: “A defect which gives rise or which is likely to give rise to damage of such severity that it affects or is likely to affect the structural integrity of a home and which requires complete or partial rebuilding of the home or extensive repair work to it, subject to the limitations, qualifications or exclusions that may be prescribed by the Minister”.
Dit is nogal ‘n mondvol. ‘n Onlangse uitspraak van die Hoë Hof gee vir ons ‘n praktiese illustrasie. Hier het die woning ter sprake, binne ‘n jaar na okkupasie groot krake in die betonvloerblad ontwikkel. Die eienaar het ‘n strukturele ingenieur ingeroep en hy het bevind dat die krake struktureel van aard was. Die Raad het insgelyks ‘n strukturele ingenieur ingeroep wat bevind het dat die probleem nie struktureel van aard was nie, maar dat dit ontstaan het as gevolg van inkrimping voortspruitend uit swak werkmanskap tydens die gooi van die betonblad.
Nadat die hof beide partye se deskundige verslae en getuienis oorweeg het, kom die Hof tot die bevinding dat die woning se “onderliggende struktuur gebrekkig” was en dat hierdie fatale gebrek beslis struktureel van aard was. Hierdie gebreke was ongetwyfeld van ‘n ernstige aard, soos hierbo gedefinieer, en die Hof beveel die Raad om toe te sien dat dit herstel word.
Die beperking
Die Raad is slegs by magte om ‘n maksimum van R500 000 te spandeer om die probleem en gebrek aan te spreek of ‘n bedrag gelykstaande aan die “verkoopprys van die huis”, indien dit minder as R500 000 beloop.
© DotNews, 2005-2012. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.