Twee onlangse uitsprake van die Hoogste Hof van Appèl het die beginsel bevestig dat dit die verantwoordelikheid van ‘n skool se beheerliggaam bly om skoolbeleid en reëls vas te stel en toe te pas.
In beide gevalle het die Provinsiale Onderwysdepartement ingemeng en die betrokke skoolhoof beveel om in stryd met die beheerliggaam se geldende beleid op te tree. Die Hof bevind dat hierdie opdragte onregmatig en ongeldig was.
Geval 1 – Die beleid oor swangerskap
In die eerste geval het twee skole ingevolge hul onderskeie “beleide oor swangerskappe” onder leerders, die betrokke leerders uit die skool geskors. In beide gevalle het die hoof van die betrokke onderwysdepartement die skool beveel om die leerders weer tot die skool toe te laat. Die skole het hul hierna tot die Hof gewend.
In beide gevalle het die Hof ‘n interdik toegestaan, wat die onderwysdepartement verbied om opdragte aan die skoolhoofde te gee wat direk in stryd was met die behoorlik aanvaarde beleid van die skool. Die Hof bevind dat selfs indien die beleid oënskynlik in stryd met die grondwet of andersins onwettig sou wees, kan sodanige beleid slegs deur ‘n Hof op hersiening tersyde gestel word. Die direkte opdrag van die onderwysdepartement aan die skoolhoof om nie uitvoering te gee aan die beleid nie, was dus onwettig. Die onderwysdepartement moes eerder uit die staanspoor die Hof met ‘n hersieningsaansoek genader het om die skoolbeleid tersyde te laat stel.
Geval 2 – Die toelatingsbeleid
In die tweede geval het ‘n skool sy volle toelatingskapasiteit vir die skooljaar bereik. ‘n Leerder het aansoek gedoen om toelating, maar sy was onsuksesvol omdat haar aansoek reeds baie laag op die bestaande waglys was. Die onderwysdepartement het opdrag gegee dat die leerder toegelaat moes word. Terselftertyd het die departement ook die skoolhoof se toelatingsfunksie weggeneem.
Weereens het die Appèlhof beslis dat dit die beheerliggaam van die skool se funksie en prerogatief is om die toelatingsbeleid en kapasiteitsvlakke van die skool vas te stel. Die Hof bevind verder dat hierdie magte van die beheerliggaam nie absoluut is nie en dat die provinsiale onderwysdepartemente wel ‘n beperkte “oorsigsrol” het. Die beheerliggaam se beleidsbesluite moet steeds redelik en rasioneel wees by die vastelling van die skool se kapasiteit en in die toepassing van die skool se toelatingsbeleid.
Verder, die toelatingsbeleid mag nie:
- Op onregverdige wyse teen applikante diskrimineer nie
- Enige toelatingstoetse van ‘n applikant vereis nie, en
- Toelating weier omdat die applikant se ouers nie die voorgeskrewe skoolgelde betaal het nie of nie in staat is om dit te betaal nie;
Twee belangrike Voetnotas:
- Gewysigde regulasies is in Maart 2012 in Gauteng afgekondig wat bepaal dat die onderwysdepartement (en nie die beheerliggaam nie) ‘n skool se toelatingskapasiteit sal vasstel. Die Hof het geen bevinding oor die geldigheid van hierdie regulasies gemaak nie aangesien hierdie regulasies nog nie in plek was toe die oorspronklike hofsake ontstaan het nie. Volgens media berigte word die geldigheid van hierdie regulasies reeds in verskeie regsaksies getoets.
- Volgens media berigte blyk dit ook of die saak oor die toelatingsbeleid na die Grondwetlike Hof verwys gaan word. Vir die hede, het die Appèlhof die bevoegdheid van die beheerliggame om die reëls te maak onder bogenoemde omstandighede, bekragtig. Die beheerliggame moet egter deurlopend op wettige wyse besluite neem en optree. Anders sal hul beleidsbesluite op hersiening geneem word. Enige beleid wat ‘n leerder se grondwetlike regte tot onderwys gaan raak, sal met die hoogste sorg en noukeurigheid geformuleer moet word.
Indien daar enige twyfel bestaan, behoort die beheerliggaam in elk geval regsadvies in te win!
© DotNews, 2005-2012. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.