“Be careful about lending a friend money. It may damage her memory” (Anoniem)
Daar is baie potensiële slaggate wanneer jy ‘n lening aan ‘n vriend maak. ‘n Minder bekende slaggat word deur die Nasionale Kredietwet geskep. Indien daar nie aan die vereistes van die Nasionale Kredietwet voldoen word nie, loop jy die risiko van aansienlike verliese.
Dit sluit eerstens in dat jou leningsooreenkoms ongeldig verklaar kan word en tweedens hou dit die gevaar in dat jy al jou regte om uitstaande gelde in te vorder, kan verloor. Hierdie risiko’s is duidelik uitgewys in ‘n onlangse beslissing van die Grondwetlike Hof.
Die feite
- ‘n Boer in Namibië het vir sy vriend R 7 000 000.00 (Sewe Miljoen Rand) geleen om eiendom in Kaapstad te ontwikkel. Die partye het drie geskrewe leningsooreenkomste aangegaan.
- Op daardie stadium was die boer nie as ‘n kredietverskaffer geregistreer nie, soos vereis volgens die Nasionale Kredietwet nie.
- Al het die verskaffing van krediet nie deel uitgemaak van die boer se gewone sakebedrywighede nie, vereis die Nasionale Kredietwet steeds dat hy as ‘n kredietverskaffer geregistreer moes wees. Die boer het geen kennis van hierdie vereiste gehad nie en het ook geen bedoeling gehad om die Nasionale Kredietwet te oortree nie.
- Die vriend kon die boer nie teen die ooreengekome datum terugbetaal nie. Die boer het hierna by die Hoë Hof aansoek gedoen vir die sekwestrasie van die vriend se boedel.
Die regsposisie
Die Nasionale Kredietwet maak voorsiening vir die volgende:
- ‘n Verskeidenheid van situasies word in die Nasionale Kredietwet gelys wat jou sal verplig om as kredietverskaffer te registreer indien jy daaraan voldoen. In die onderhawige geval moes die boer as kredietverskaffer registreer, omdat die leningsbedrag die vasgestelde drempel van R 500 000.00 oorskry het.
- Die feit dat die lener ‘n vriend was, speel hier geen rol nie. Dit is van belang dat die lening binne die definisie van “kredietooreenkoms” val en dat die partye ‘n oënskynlike “armlengte leningsooreenkoms” aangegaan het.
- As jy versuim om as kredietverskaffer te registreer, verplig die Nasionale Kredietwet die hof om –
a. die ooreenkoms nietig te verklaar, asook
b. ‘n bevel te maak dat jy jou reg om vergoeding aan die staat verbeur.In die onderhewige geval het hierdie bepaling onder die loep gekom. Die Hoë Hof en die Grondwetlike Hof het dit as ongrondwetlik verklaar aangesien dit indruis teen ons grondwetlike reg teen die verbod op die arbitrêre ontneming van eiendom.
Die praktiese gevolge van hierdie uitspraak
Tot tyd en wyl hierdie ongeldige kansellasie/ ontnemingsklousule gewysig word, sal die gemenereg van toepassing wees. Die Hof bevestig dat die ongeldige ooreenkomste ongetwyfeld nietig is, maar bevind dan dat die kredietverskaffer wel in kwalifiserende gevalle die leningsbedrag op grond van ongeregverdigde verryking van die verbruiker sal kan terug eis: “The credit provider would be able to claim successfully from the consumer on the basis of unjustified enrichment, if the requirements of the action are met. This could include the consideration of the circumstances of each case and especially the degree of blameworthiness of the unregistered credit provider, in order to reach a just outcome”.
Indien die wet vereis dat jy as kredietverskaffer moet registreer, is jy verplig om dit te doen. Versuim jy om dit te doen, sal al jou kredietooreenkomste nietig wees. Jy sal dan individueel by die hof moet aansoek doen om jou toe te laat om jou lenings te verhaal, maar dit bly binne die diskresie van die hof. Indien die hof jou nie te hulp gaan kom nie, sal jy geen verdere verhaalsreg hê nie. Daarom is dit belangrik dat jy eerder vanuit die staanspoor behoorlike advies verkry en jou handelinge dienooreenkomstig rig.
Selfs indien jy suksesvol is met die verkryging van ‘n hofbevel, beteken dit nog nie dat jy jou geld gaan terugkry nie. Soos in hierdie geval kan jou vriend bankrot verklaar word en gaan jy dan slegs ‘n gewone eis teen sy insolvente boedel hê, met geen waarborg dat jy uiteindelik enige dividend gaan ontvang nie.
Geen wonder dat Shakespeare as volg waarsku nie: “Neither a borrower nor a lender be; for loan oft loses both itself and friend”.
© DotNews, 2005-2013. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.