Die Maatskappywet van 2008 gee erkenning aan vandag se moderne middels van kommunikasie. Formele vergaderings en besluite van die Maatskappy kan nou by wyse van e-pos, aanlynboodskapdiens, stem- en videokonferensies (byvoorbeeld Skype, SightSpeed en iChats) geneem word.
Die tradisionele raadsvergaderings waartydens almal persoonlik en in dieselfde vertrek teenwoordig moet wees, gaan gevolglik in die toekoms die uitsondering raak.
Direkteure en aandeelhouers wat in verskillende stede en selfs lande gesetel is, hoef dus nie meer te reis om die raadsvergaderings persoonlik by te woon nie. Dit is regtens aanvaarbaar indien die vergadering aanlyn en in verskillende geografiese gebiede plaasvind. Dit bring noodwendig groot besparings op reistyd, verlore produksie en reisonkostes mee. Dit beteken ook dat dringende vergaderings op kort kennisgewing belê kan word, besluite geneem kan word en elektronies genotuleer kan word.
Selfs waar ‘n “formele vergadering” (hetsy fisies of aanlyn) nie gehou word nie, kan besluite nog steeds by wyse van skriftelike goedkeuring van die meerderheid direkteure in elektroniese formaat met ‘n verskeidenheid van platforms geneem word. Daar is wel kennisgewingsperiodes waaraan voldoen moet word of formeel van afstand gedoen kan word.
Kom die formele vereistes na
- Maak seker dat die Maatskappywet se vereistes oor behoorlike kennisgewing, optrede en notulering van vergaderings nagekom word.
- Maak seker dat die vereistes van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies oor die identifikasie van die versender, toeganklikheid, berging en herwinning van elektroniese data nagekom word.
- Elektroniese vergaderings kan wel gehou word, tensy jou Akte van Oprigting (AVO) uitdruklik anders bepaal. Om enige onsekerheid te vermy behoort jou Akte van Oprigting dit in duidelike terme toe te laat.
- Die middel van elektroniese kommunikasie wat gebruik word om die vergadering te hou, moet alle betrokke partye steeds die geleentheid bied om deurlopend en gelyktydig met mekaar te kommunikeer. Die lede van die vergadering moet direk met mekaar kan kommunikeer, sonder ‘n tussenganger, sodat die partye vrylik en effektief aan die vergadering kan deelneem en hul insette kan lewer. Sodoende word die vergadering gehou asof al die betrokkenes gelyktydig in een vertrek teenwoordig sou wees.
Aandeelhouers
Aandeelhouersvergaderings kan op soortgelyke wyse en op soortgelyke voorwaardes gehou word. Trouens, dit is ‘n vereiste dat openbare maatskappye in Suid-Afrika se aandeelhouersvergaderings wel toeganklik is vir elektroniese deelname deur aandeelhouers, ongeag of die aandeelhouersvergadering in Suid-Afrika of elders gehou word.
© DotNews, 2005-2013. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.