Guthrie & Theron | Attorneys in the Overberg Region

G&T_SARSSARS het nog altyd, tydens sekwestrasies en likwidasies voorkeur geniet ten opsigte van hulle aansprake en eise ingevolge die toepaslike insolvensie wetgewing.Dividende word eers aan versekerde skuldeisers (“verbandhouers”) en daarna gedeeltelik aan personeel toegeken. Hierna is die Suid – Afrikaanse Inkomstediens as skuldeiser wat statutêre voorkeur geniet, die volgende in die rangorde van betalings. Dit bring mee dat in gevalle waar SARS ‘n groot eis geniet, dit onwaarskynlik raak dat die gewone skuldeisers ‘n gewone dividend sal ontvang. Hierdie geval kan goed uitgedruk word in die volgende stelreël: “You have about a 5% chance of getting about 5 cents in the Rand”.Jou kanse op ‘n dividend het verbeter, indien…In die geval waar die maatskappy in finansiële nood verkeer en formeel in ondernemingsredding geplaas word, stel dit algemene skuldeisers in ‘n beter posisie. Die Hoë Hof het onlangs beslis dat SARS tydens ondernemingsredding sy voorkeurposisie verloor. SARS word dus as gelyke en gewone skuldeiser hanteer vir doeleindes van dividende sowel as stemreg tydens vergaderings van skuldeisers met betrekking tot ondernemingsredding.

In die praktyk beteken dit dat selfs wanneer ‘n ondernemingsredding onsuksesvol is, behoort die kanse groter te wees dat gewone konkurrente skuldeisers wel ‘n dividend sal ontvang.

SARS se posisie gedurende ondernemingsredding word tans deur die Maatskappywet gereguleer. Dit is dus voorsienbaar dat SARS druk op die wetgewer sal plaas om die Maatskappywet te wysig om dit in lyn te bring met hul voorkeurposisie ingevolge die Insolvensiewet. Totdat dit gebeur, is hierdie ‘n belangrike faktor waarom skuldeisers ondernemingsredding bo likwidasie van ‘n skuldeiser kan verkies.

© DotNews, 2005-2013. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.